Nuus 14:00
BULLETIN 1 Oktober 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# AfriForum beskou Julius Malema se skuldigbevinding as ‘n oorwinning vir die oppergesag van die reg
# Cosatu is vol vertroue die regering sal ‘n handelsooreenkoms met Amerika bereik
# En tennis: Sinner wen die Chinese Ope
# AfriForum verwelkom die uitspraak van die Landdroshof in Oos-Londen in die Oos-Kaap wat die EFF-leier, Julius Malema, skuldig bevind het op vyf vuurwapenverwante aanklagte. Die saak spruit voort uit die party se verjaarsdag-byeenkoms in Mdantsane in 2018, waar Malema skote afgevuur het. AfriForum, wat die aanklagte aanhangig gemaak het, sê geregtigheid het geseëvier ondanks vertragings. Woordvoerder Jacques Broodryk sê die uitspraak bewys niemand is onaantasbaar nie, en noem dit ‘n groot oorwinning vir aanspreeklikheid en die oppergesag van die reg:
# Die Madlanga-kommissie het verdaag nadat die hoof van Misdaad-intelligensie, Dumisani Khumalo, siek geword het voor hy kon voortgaan met sy getuienis. Die kommissie se woordvoerder, Jeremy Michaels, sê ‘n besluit oor of die verrigtinge môre hervat sal word, sal later vandag bekend gemaak word. Khumalo het getuienis gelewer oor beweerde bande tussen die sakemanne Vusimuzi ‘Cat’ Matlala en Brown Mogotsi, en die geskorste minister van Polisie, Senzo Mchunu. Michaels sê die sittings is steeds in fase een:
# Die vakbondfederasie Cosatu sê hy is steeds vol vertroue dat die regering ‘n positiewe handelsooreenkoms met Amerika sal bereik wat tot voordeel van albei partye is. Suid-Afrika probeer om president Donald Trump se administrasie te oortuig om die tarief van 30-persent te verlaag wat in Augustus op sy uitvoere na Amerika ingestel is. Cosatu se woordvoerder, Matthew Parks, sê enige nuwe handelsooreenkoms moet Suid-Afrikaanse werksgeleenthede en nywerhede ‘n hupstoot gee en die land se pad na hervorming herbevestig:
Nuus uit die buiteland:
# Die perseel van München se Oktoberfest sal tydelik gesluit bly nadat ‘n brand en ontploffing ‘n gebou in die suidelike deel van die Duitse stad geruk het. Die organiseerders van die bierfees sê op hulle webwerf dat hulle ‘n bomdreigement ontvang het. Die polisie sê ploftoestelle is in ‘n woonstelgebou in die noorde van München gevind en hulle ondersoek ‘n moontlike verbintenis met die fees wat jaarliks in die middestad van die Beierse hoofstad plaasvind.
# Tennis: Die wêreld-nommer-twee, Jannik Sinner, het die Chinese Ope die tweede keer gewen toe hy die Amerikaanse tiener Learner Tien (Tién) in die eindstryd in Beijing geklop het. Dit is die Italianer se derde titel van die seisoen en 21ste algeheel. Sinner het in 2023 in die Chinese hoofstad gewen, maar in verlede jaar se eindstryd verloor teen sy geswore teenstander, die wêreld-nommer-een, Carlos Alcaraz van Spanje. Sinner is die topgekeurde in die Sjanghaise Meesterstoernooi nadat Alcaraz weens ‘n besering onttrek het nadat hy die Japannese Ope gewen het.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-18-sent teen die dollar, 20-rand-15-sent teen die euro en 23-rand-14-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 116-duisend-362-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-887-dollar-92-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 65-dollar-84-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….