Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 1 Oktober 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons skop af met rugby: Die Italiaanse skeidsregter Andrea Piardi, wat daarvan beskuldig word dat hy Australië onlangs twee keer ernstig benadeel het, is in beheer van Saterdag se Rugbykampioenskapstoets tussen Suid-Afrika en Argentinië in Londen. Hy het in die doodsnikke van die tweede toets teen die Britse en Ierse Leeus ‘n omstrede drie aan die Leeus toegeken wat hulle die reeks laat wen het. Hy het ook verlede week teen die All Blacks geblaas, wat 33-24 gewen het, waarna baie Wallabie-ondersteuners, internasionale kenners en selfs spelers onreëlmatighede in sy beslissings uitgewys het.
Springbok-afrigter Rassie Erasmus is intussen tevrede met die manier waarop die groep vanjaar ontwikkel het, veral wat die diepte en verskillende sterkpunte betref. Nie een van die 36 spelers wat hy in vanjaar se Rugbykampioenskap ingespan het, was die volle 400 minute van die vyf rondes op die veld nie. Agt-en-twintig Bokke het vanjaar drieë gedruk. Erasmus sê die onderlinge uitruilbaarheid van verskillende kombinasies is nog iets waaraan voortdurend gewerk word:
# Krieket: Die openingswedstryd van die Wêreldbekertoernooi vir vroue tussen die gasvroue, Indië en Sri Lanka, in Guwahati het ‘n bywoningsrekord vir ‘n openingsdag gestel. Die 22-duisend-843 toeskouers is die meeste wat nog ‘n groepswedstryd op enige Wêreldbekertoernooi bygewoon het. Die vorige rekord van 15-duisend-935 is opgestel gedurende verlede jaar se Groep A-wedstryd tussen Indië en Pakistan in die T20-Wêreldbekertoernooi. Die Indiese krieketlegende Sachin Tendulkar sê hierdie mylpaal stuur ‘n sterk boodskap dat vrouekrieket nie net toejuiging verdien nie, maar ook gelyke respek.
# Tennis: Die wêreld-nommer-een, Carlos Alcaraz, het aan die Sjanghaise Meesterstoernooi onttrek nadat hy sy linker-enkel beseer het. Die 22-jarige Spanjaard het sy enkel seergemaak in sy eerste wedstryd op die Japannese Ope, maar deurgedruk en die toernooi gewen vir sy agste ATP Toer-titel van die seisoen. Corentin Moutet van Frankryk neem sy plek in Sjanghai in. Alcaraz sê hy kies om te rus en te herstel voor die seisoen se finale fase:
# En sokker: Kylian Mbappé het ‘n driekuns behaal en sy 60ste Kampioeneligadoel aangeteken om by te dra tot Real Madrid se sege van 5-1 oor Kairat Almaty in Kazakstan. In Turkye het Victor Osimhen die wendoel met ʼn strafdoel bygedra en Galatasaray het Liverpool 1-0 verslaan. Atlético Madrid en Bayern Munich het albei vyf doele behaal teen onderskeidelik Eintracht Frankfurt en Pafos. Tottenham Hotspur het met ʼn agterstand van 2-0 teen Bodø/Glimt sokkies opgetrek en gelykop geëindig met 2-elk. Chelsea het Benfica 1-0 geklop.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….