Nuus 12:00
BULLETIN 1 Oktober 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Julius Malema is skuldig aan oortreding van die Wet op Vuurwapenbeheer
# Die Forum for South Africa beweer Nathi Mthethwa se nalatenskap is verswakte instellings
# En AfriForum vra onmiddelike staking van vermeende onwettige mynbou-bedrywighede naby die Krugerwildtuin
# Landdros Twanet Olivier het die EFF-leier, Julius Malema, in die Oos-Londense Streekhof skuldig bevind op aanklagte in verband met die afvuur van ‘n vuurwapen tydens EFF-vieringe in Julie 2018. Bly ingeskakel vir meer hieroor.
# Forum for South Africa sê die leierskap van die ontslape Suid-Afrikaanse ambassadeur na Frankryk, Nathi Mthethwa, het die Ministeries van Polisie en van Sport, Kuns en Kultuur verswak. Woordvoerder Tebogo Mashilompane verwys na die KwaZulu-Natalse polisiekommissaris, Nhlanhla Mkhwanazi, wat voor die Madlanga-kommissie getuig het Mhethwa het ingemeng in polisiewerksaamhede toe hy minister was, wat misdaadbestrydings-pogings verswak het. Hy het sy meegevoel met Mthetwa se naasbestaandes uitgespreek, maar beklemtoon leiers moet aanspreeklik wees, selfs na hulle dood:
# Corruption Watch sê dis duidelik dat sindikate waarby amptenare en diensverskaffers betrek word, voortgaan met hul plundering sonder om enige gevolge te dra. Dit volg ná die Spesiale Ondersoekeenheid se ondersoek by die Tembisa-hospitaal waar gekoördineerde sindikate ontdek is wat meer as twee-miljard-rand gesteel het. Corruption Watch sê die wanbestuur van hulpbronne het ‘n ernstige uitwerking op die welstand van alle inwoners en belemmer die lewering van noodsaaklike dienste. Hy voeg by swak bestuur ondermyn die doeltreffendheid van stelsels wat veronderstel is om korrupsie te voorkom.
# AfriForum vra dat mynbou-bedrywighede dadelik gestaak word naby die suidelike deel van die Nasionale Krugerwildtuin in die afwesigheid van omgewingsgoedkeuring en toestemming deur die grondeienaar. Die organisasie sê boorwerk en geografiese ondersoeke op grond van die Tenbosch-, Turfbelt- en Tecklenburg Ranch is onwettig, en geen omgewingstudie is gedoen nie. Die raadgewer oor Omgewingsake, Marais de Vaal, waarsku oor regsoptrede met koste indien bedrywighede nie teen Dinsdag gestaak word nie:
# Rugby: Springbok-afrigter Rassie Erasmus sê hy is tevrede met die manier waarop die groep vanjaar ontwikkel het, veral wat die diepte en verskillende sterkpunte betref. Nie een van die 36 spelers wat hy in vanjaar se Rugbykampioenskap ingespan het, was die volle 400 minute van die vyf rondes op die veld nie. Agt-en-twintig Bokke het vanjaar drieë gedruk. Erasmus sê die onderlinge uitruilbaarheid van verskillende kombinasies is nog iets waaraan voortdurend gewerk word:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-23-sent teen die dollar, 20-rand-25-sent teen die euro en 23-rand-21-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 115-duisend-070-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-891-dollar-85-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 66-dollar-15-sent per vat.
# En laastens, St Joseph’s tussenmediêre pediatriese sorg sê hy is al nege dekades lank ʼn baken van hoop vir duisende kinders wat mediese oorgangsorg nodig het. Die organisasie bied gratis mediese en terapeutiese oorgangsorg aan kinders met chroniese siektes en gestremdhede. Die vierings van die mylpaal het die afgelope maande ʼn tuinparty vir pasiënte en personeel ingesluit, asook ʼn dankseggingsdiens saam met skenkers en vennote.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….