Nuus 11:00
BULLETIN 1 Oktober 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Parys se aanklaer stel ondersoek in na Nathi Mthethwa se dood
# Die Amerikaanse regering sluit nadat senatore misluk om die befondsingswetsontwerp deur te voer
# En rugby: Rassie Erasmus is tevrede met die Bokgroep se ontwikkeling
# Franse owerhede het met ‘n ondersoek begin na die dood van Suid-Afrika se ambassadeur in Frankryk, Nathi Mthethwa. Hy is gister dood aangetref buite die Hyatt Hotel nadat hy Maandag as vermis aangemeld is. Parys se aanklaer, Laure Beccuau, sê Mthethwa se kamervenster op die 22ste vloer is oopgedwing met ʼn skêr wat op die toneel gevind is. Sy sê ondersoekers kon geen teken vind van ʼn geveg of dat dwelms of medisyne betrokke was nie. Beccuau sê die aanvanklike ondersoek dui daarop dat dit ʼn doelbewuste optrede was.
# Die FNB-Buro vir Ekonomiese Navorsing se siviele vertrouens-aanwyser het in die derde kwartaal van 2025 tot 43 gestyg teenoor die vorige 41. ‘n Ekonoom van FNB, Siphamandla Mkhwanazi, sê die styging in verbruikersentiment volg ondanks swakker boubedrywighede, met byna 55-persent van die deelnemers wat ontevrede is met saketoestande. Hy voeg by basiseffekte verklaar waarskynlik die daling, maar die sektor is steeds op koers vir ‘n sterker 2025 vergeleke met die inkrimping van 6,1-persent in 2024:
# Corruption Watch sê dis duidelik dat sindikate waarby amptenare en diensverskaffers betrek word, voortgaan met hul plundering sonder om enige gevolge te dra. Dit volg ná die Spesiale Ondersoekeenheid se ondersoek by die Tembisa-hospitaal in Gauteng, waar gekoördineerde sindikate ontdek is wat meer as twee-miljard-rand gesteel het. Corruption Watch sê die wanbestuur van hulpbronne het ʼn ernstige uitwerking op die welstand van alle inwoners en belemmer die lewering van noodsaaklike dienste. Hy voeg by swak bestuur ondermyn die doeltreffendheid van stelsels wat veronderstel is om korrupsie te voorkom.
Nuus uit die buiteland:
# Die Amerikaanse regering het die eerste keer in byna sewe jaar gesluit nadat senatore nie daarin kon slaag om ‘n befondsingswetsontwerp deur te voer nie. Demokrate in die Kongres het geweier om ‘n Republikeinse befondsingspakket te ondersteun tensy hulle ‘n reeks toegewings rondom gesondheidsorg bekom. Die sluiting is die eerste sedert een van 35-dae wat in Desember 2018 begin het tydens president Donald Trump se eerste termyn. Die speaker van die Huis, Mike Johnson, sê Demokrate moet die skuld kry:
# Rugby: Springbok-afrigter Rassie Erasmus sê hy is tevrede met die manier waarop die groep vanjaar ontwikkel het, veral wat die diepte en verskillende sterkpunte betref. Nie een van die 36 spelers wat hy in vanjaar se Rugbykampioenskap ingespan het, was die volle 400 minute van die vyf rondes op die veld nie. Agt-en-twintig Bokke het drieë gedruk. Erasmus sê die onderlinge uitruilbaarheid van verskillende kombinasies is nog iets waaraan voortdurend gewerk word:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-24-sent teen die dollar, 20-rand-29-sent teen die euro en 23-rand-22-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 114-duisend-377-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-861-dollar-15-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 66-dollar-22-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….