Nuus 08:00
BULLETIN 1 Oktober 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA verwelkom die vordering met ‘n moontlike handelsooreenkoms met die VSA
# ‘n Aardbewing van 6,9 op die Richterskaal eis ten minste 26 lewens in die Filippyne
# En tennis: Alcaraz onttrek aan die Sjanghai Meesters weens ’n besering
# Die DA verwelkom die positiewe tekens van ‘n omvattende handelsooreenkoms tussen Suid-Afrika en Amerika, en dat die Wet op Groei en Geleenthede in Afrika dalk vir ʼn jaar verleng word. President Cyril Ramaphosa het verlede maand ʼn onderhandelingspan na Amerika gestuur om ʼn verlaging in die 30-persent tariewe op uitvoere na Amerika te probeer bewerkstellig. Toby Chance van die DA sê hulle ondersteun die regering van nasionale eenheid en die privaat sektor se pogings om betrekkinge met die land se grootste handelsvennoot te herstel:
# Endeavor South Africa sê ‘n reeks hoëprofiel-tegnologie- en fintech-uittredes in Suid-Afrika veroorsaak ‘n herlewing in beleggersvertroue. Ondernemings soos DocFox, Bank Zero, iKhokha en Syft Analytics is oor die afgelope 18 maande vir miljarde verkry, met 21 Afrika-uittredes in 2025. Die besturende direkteur, Alison Collier, sê hierdie transaksies bewys dat likiditeit terugkeer en vars kapitaal ontsluit vir ondernemings wat uitbrei. Sy het beklemtoon die oplewing versterk Afrika se ondernemings-ekosisteem, wat groei, werkskepping en herbelegging in nuwe ondernemings moontlik maak.
# City Power het ʼn dringende hofinterdik teen die Valke aangevra ná ʼn deursoek-en-beslagleggingsoperasie verlede week by sy kantoor. Die Valke het ʼn lasbrief gehad om die instelling se kantoor in Booysens te deursoek as deel van ʼn voortgesette ondersoek na ʼn tender van 64-miljoen-rand. Die kontrakte was vir die verskaffing van elektriese transformators in 2023, maar dis nooit afgelewer nie. City Power se woordvoerder, Isaac Mangena, sê die klopjag was onregmatig:
# Minstens 26 mense is dood en 147 beseer in ʼn aardbewing van 6,9 in sentraal-Filippyne. Die aardbewing het aan die kus by Cebustad plaasgevind. Die sterk skudding het kragonderbrekings veroorsaak, geboue en huise se mure laat ineenstort en grondstortings laat ontstaan. Die streek was besig om te herstel van ʼn storm wat die sentrale gebied Vrydag geteister het. Die Filippyne loop gereeld deur onder aardbewings en vulkaniese uitbarstings weens sy ligging in die Stille Oseaan se “Ring van Vuur”, waar tektoniese plate bots.
# Tennis: Die wêreld-nommer-een, Carlos Alcaraz, het aan die Sjanghai Meesters onttrek nadat hy sy linker-enkel beseer het. Die 22-jarige Spanjaard het sy enkel in sy eerste wedstryd by die Japannese Ope beseer, maar deurgedruk, die toernooi voltooi en met sy agste ATP Toer-titel van die seisoen weggestap. Corentin Moutet van Frankryk neem Alcaraz se plek in Sjanghai in. Alcaraz sê hy kies om te rus en te herstel voor die seisoen se finale fase:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-27-sent teen die dollar, 20-rand-27-sent teen die euro en 23-rand-20-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 114-duisend-492-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-863-dollar-59-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 66-dollar-3-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….