Nuus 07:00
BULLETIN 1 Oktober 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Tau sê Suid-Afrika se prioriteit is om AGOA te verleng, selfs vir ‘n kort tydperk
# Eskom rapporteer sy eerste wins in agt jaar
# En die VN-hoof versoek alle partye om hulself tot die Gaza 20-punt-vredesplan te verbind
# Die minister van Handel, Nywerheid en Mededinging, Parks Tau, sê hy bly optimisties oor die hernuwing van die Wet op Groei en Geleenthede in Afrika, wat gister amptelik verstryk het. Dis vir Suid-Afrika noodsaaklik dat AGOA verleng word, omdat dit meer as 69-miljard-rand se uitvoere na Amerika verteenwoordig, wat 28-persent van alle handel tussen Suid-Afrika en Amerika is. Tau sê daar is ondersteuning vir die hernuwing van AGOA. Hy voeg egter by daar is vrae oor die tydperk van hernuwing, die tydstip van hernuwing, en die wetgewende manier waarop dit gedoen word.
Die motorvakbond MISA sê intussen Suid-Afrika het te laat opgetree om nuwe handelsooreenkomste met Amerika te sluit voor die Wet op Groei en Geleenthede in Afrika gister verval het. Hulle waarsku dat hierdie mislukking werksverliese in die kleinhandelmotorbedryf sal vererger waar afleggings alreeds styg. Die woordvoerder van die vereniging, Sonja Carstens, sê pogings deur president Cyril Ramaphosa en minister Tau om die ooreenkoms te red, het misluk:
# Eskom het die eerste keer in agt jaar ‘n wins van 16-miljard-rand na belasting getoon vir die volle jaar wat in Maart 2025 geëindig het. Die vorige jaar het die instelling ʼn verlies van 55-miljard-rand gehad. Die kragverskaffer skryf sy wins grootliks toe aan die ongewilde 12,74-persent standaard-tariefverhoging, ondersteuning met skuldverligting, en ʼn 14-persent afname in basiese energiekoste. Eskom se uitvoerende hoof, Dan Marokane, sê hulle belê winste weer in nasionale bates:
# Die DA doen ‘n beroep op die Stad Tshwane om nie meer die reinigingsheffing in die hof te verdedig nie en kredietbeheer op rekeninge wat geraak word te staak. Die DA in Tshwane se burgemeesterskandidaat, Cilliers Brink, sê 783-duisend-rand belastingbetalersgeld is reeds bestee, ten spyte van die hofuitspraak dat die heffing nie wettig geregverdig is nie. Hy beklemtoon voortdurende kwessies rondom dubbele fakturering en vra die Stad om die faktureringskrisis op te los voor verdere stappe gedoen word:
# Die Verenigde Nasies se sekretaris-generaal, António Guterres, verwelkom president Donald Trump se voorstel vir ʼn vredesooreenkoms in Gaza en vra alle partye om hulle tot die instelling daarvan te verbind. Die 20-punt-vredesplan sluit in dat gevegte beëindig word, gyselaars terugkeer en ʼn internasionale Vredesraad aangestel word om te help om Gaza te bestuur. Guterres sê die belangrikste is om die lyding te bekamp wat sedert die aanvalle op 7 Oktober plaasvind. Hy het ook herhaal dat ʼn onmiddellike en permanente skietstilstand ingestel moet word.
# Krieket: Indië het hul Vroue-wêreldbekerveldtog in Guwahati op ʼn wen-noot begin en Sri Lanka met 59 lopies verslaan. Deepti Sharma en Amanjot Kaur se vennootskap van 103 lopies om die sewende paaltjie waar albei vyftigtalle behaal het, het die gasvroue se telling na 47 boulbeurte op 269 vir agt gebring. Drie boulbeurte het weens reën verlore gegaan. Inoka Ranaweera het as bouler geskitter en vier paaltjies platgetrek. In antwoord daarop is Sri Lanka se teiken aangepas tot 271, maar hulle is in die 46ste boulbeurt vir 211 uitgeknikker.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-26-sent teen die dollar, 20-rand-26-sent teen die euro en 23-rand-20-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 114-duisend-278-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-864-dollar-89-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 66-dollar-3-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….