Nuus 18:00
BULLETIN 30 September 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die regering bevestig die dood van die gewese minister Nathi Mthethwa in Parys
# Dieselpryse daal, maar petrolpryse styg na ‘n aanpassing in die kleinhandelmarge
# En rugby: Ox Nché se insluiting is die enigste verandering aan die Bokke se opdrafspan vir Twickenham
# Die ministerie van Internasionale Betrekkinge en Samewerking het die dood van Suid-Afrika se ambassadeur in Frankryk, Nathi Mthethwa, bevestig. Die 58-jarige diplomaat, wat voorheen as die minister van Polisie en die minister van Sport, Kuns en Kultuur gedien het, is in Parys dood en Franse owerhede stel tans ondersoek in na die omstandighede. Die woordvoerder, Chrispin Phiri, sê die verlies van Mthethwa word nie net tuis gevoel nie, maar ook in die wêreldwye diplomatieke gemeenskap:
# Die Departement van Minerale en Petroleumbronne het veranderings aan brandstofpryse aangekondig vanaf middernag. Die dieselprys daal met tussen agt- en tien-sent per liter, maar die prys van 95-oktaan petrol styg met agt-sent en 93-oktaan petrol met een-sent. Die kleinhandelprys van lampolie sal met 15-sent per liter daal en vloeibare gas met 17-sent per kilogram. Die minister het ‘n verhoging van ses-sent per liter in die kleinhandelmarge van petrol goedgekeur. Dit is nodig om voorsiening te maak vir die loonverhogings van pompjoggies, kassiere en administratiewe personeel by vulstasies.
# Die Hooggeregshof in Mpumalanga het gelas dat Alexander Forbes die pensioenuitbetalings van die voormalige adjunkpresident, David Mabuza, moet opskort. Hy is in Julie dood. Die fondse, wat na bewering opsy gesit is vir sy vrou, Nonhlahla Mnisi, is nou gevries ná ‘n dringende aansoek deur Mabuza se dogter uit ‘n tradisionele huwelik, Tamara Silinda. Sy eis 40-duisend-rand vir maandelikse onderhoud en 127-duisend-990 rand vir studiegeld. Regter Johannes Roelofse het ‘n tussentydse bevel toegestaan om moontlike begunstigdes te beskerm totdat die saak afgehandel is:
Nuus uit die buiteland:
# ‘n Palestynse bron na aan Hamas sê die groep oorweeg die Amerikaanse president, Donald Trump, se voorstel vir die beëindiging van die Gaza-oorlog, wat gesteun word deur die Israelse eerste minister, Benjamin Netanyahu. Die bron het aan AFP gesê Hamas het begin met ‘n reeks gesprekke met sy politieke en militêre leierskap in Palestina en in die buiteland. Rusland het intussen gesê hy ondersteun ook Trump se 20-punt-plan om die oorlog te beëindig. Hy sê die plan moet ingestel word om gebeure in die Midde-Ooste vreedsaam te beëindig.
# Rugby: Springbok-afrigter Rassie Erasmus het vier veranderings aan sy wedstrydgroep aangebring vir Saterdag se laaste Rugbykampioenskapswedstryd teen die Pumas op Twickenham in Londen. Ox Nché keer terug na die opdrafspan en Grant Williams, Jesse Kriel en Bongi Mbonambi is op die bank. Nché moes verlede week kort voor die toets in Durban onttrek weens ‘n ligte besering. Die res van die span bly onveranderd, met Eben Etzebeth wat sy 138ste toets begin as Ruan Nortjé se slotmaat, en kaptein Siya Kolisi wat sy 98ste toets speel.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-28-sent teen die dollar, 20-rand-28-sent teen die euro en 23-rand-24-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 113-duisend-236-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-847-dollar-80-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 66-dollar-12-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….