Nuus 13:00
BULLETIN 30 September 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die SOE wen ‘n hofsaak om miljoene te herwin wat die SABC aan Hlaudi Motsoeneng uitbetaal het
# Matthew Chaskalson word aangestel as hoof-getuienisleier van die Madlanga-kommissie
# En rugby: Suid-Afrika kan Saterdag die eerste keer agtereenvolgende Rugbykampioenskaps-titels buit
# Die Spesiale Ondersoekeenheid het ‘n regsoorwinning behaal met die Hooggeregshof in Johannesburg se beslissing dat drie voormalige SABC-uitvoerende hoofde meer as 11-miljoen-rand moet terugbetaal wat as suksesbonusse aan die bedryfshoof, Hlaudi Motsoeneng, uitbetaal is. Mbulaheni Maguvhe, Ndivhoniswani Tshidzumba en Maleshane Raphela is gesamentlik aanspreeklik bevind omdat hulle nie die betalings teengestaan het nie. Die SOE het reeds ‘n gedeelte van Motsoeneng se pensioen in beslag geneem en sal nou die uitstaande balans herwin, met rente en regskostes wat bygetel word.
# Senior advokaat Matthew Chaskalson is aangestel as hoof-getuienisleier van die Madlanga-kommissie van ondersoek na misdadigheid, politieke inmengery en korrupsie in die strafregstelsel. Dit volg nadat advokaat Terry Motau skielik bedank het na slegs tien dae in die pos. Chaskalson, ‘n veteraan van die Marikana- en die staatskapingskommissie, sluit aan by senior advokate Mahlape Sello en Adila Hassim. Die kommissie, onder voorsitterskap van regter Mbuyiseli Madlanga, moet binne ses maande ʼn verslag aan president Cyril Ramaphosa oorhandig.
# Die vakbondfederasie Saftu sê onthullings in die Spesiale Ondersoekeenheid se verslag oor die Tembisa-hospitaal in Gauteng toon nie bloot wanadministrasie nie, maar die stelselmatige diefstal van hulpbronne waar lewens gered moes word. Die verslag het drie gekoördineerde sindikate ontbloot wat verantwoordelik is vir die plundering van meer as twee-miljard-rand. Saftu se woordvoerder, Asive Dyani, sê die plunderaars het nie net geld gesteel nie, maar ook die lewens en waardigheid van die werkersklas en armes wat afhanklik is van openbare gesondheidsorg:
# Die Wes-Kaapse LUR vir Onderwys, David Maynier, sê met slegs drie weke oor voor die aanvang van die matriekeksamen, moet leerders seker maak dat hulle vertroud is met die eksamenreëls. Alle kandidate sal twee dokumente moet onderteken: ‘n matriekbelofte en ‘n verbintenisooreenkoms. Maynier sê die gevolge vir die oortreding van die eksamenreëls is ernstig. Hy voeg by altesaam 19 kandidate van 2024 se eind-eksamen is gediskwalifiseer weens die besit van notas of selfone:
# Rugby: Die Springbokke kan die eerste keer ooit twee agtereenvolgende Rugbykampioenskaps-titels inpalm as alles Saterdag volgens plan verloop. Suid-Afrika speel op Twickenham in London teen Argentinië na oortuigende oorwinnings oor die All Blacks en die Pumas na gemengde uitslae in die die eerste drie rondes. As die Bokke Los Pumas weer klop, sal selfs ‘n oorwinning met 100-punte vir die All Blacks oor die Wallabies vroeër Saterdag nie genoeg wees nie. As Suid-Afrika egter verloor, sal die uitslag van die kragmeting tussen Nieu-Seeland en Australië die kampioen bepaal.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-29-sent teen die dollar, 20-rand-31-sent teen die euro en 23-rand-25-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 113-duisend-302-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-798-dollar-69-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 66-dollar-49-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….