Nuus 12:00
BULLETIN 30 September 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Matthew Chaskalson word aangestel as die hoof-getuienisleier van die Madlanga-kommissie
# Cosatu sê die persone betrokke by die plundering by die Tembisa-hospitaal moet vervolg word
# En uiters warm weer word vandag in die Wes-Kaap verwag
# Senior advokaat Matthew Chaskalson is aangestel as hoof-getuienisleier van die Madlanga-kommissie van ondersoek na misdadigheid, politieke inmengery en korrupsie in die strafregstelsel. Dit volg nadat advokaat Terry Motau skielik bedank het na slegs tien dae in die pos. Chaskalson, ‘n veteraan van die Marikana- en die staatskapingskommissie, sluit aan by senior advokate Mahlape Sello en Adila Hassim. Die kommissie, onder voorsitterskap van regter Mbuyiseli Madlanga, moet binne ses maande ʼn verslag aan president Cyril Ramaphosa oorhandig.
# Die vakverbond Cosatu in Gauteng verwelkom die onthullings van die Spesiale Ondersoekeenheid se verslag dat meer as twee-miljard-rand by die Tembisa-hospitaal gebuit is. Die SOE het 116 amptenare vir dissiplinêre stappe verwys en werk saam met die Nasionale Vervolgingsgesag om bates te verhaal en strafregtelike klagtes aanhangig te maak. Cosatu se provinsiale voorsitter, Amos Monyela, sê die korrupsie by die hospitaal het verwoestende gevolge vir gesondheidswerkers sowel as pasiënte gehad:
# Die Suid-Afrikaanse Weerdiens voorspel vir vandag warm tot baie warm en ongemaklike toestande in die Wes-Kaap. Temperature in die middel tot hoë 30’s en lae 40’s word in sommige gebiede voorspel. Die woordvoerder van Kaapstad se Rampbestuursentrum, Charlotte Powell, sê dit kan ʼn aansienlike uitwerking op mense se gesondheid en die omgewing hê. Sy sê hulle sal die situasie dophou en enige reaksie wat nodig is, koördineer:
Nuus uit die buiteland:
# Die Amerikaanse vise-president, JD Vance, glo die federale regering sal sluit indien die dooiepunt oor fondse voortduur. Min vordering is gemaak tydens gister se laaste wanhopige vergadering tussen president Donald Trump en Demokratiese leiers in die Kongres. Die Demokrate weier om die Republikeinse Party se wetgewing oor voortgesette befondsing ná vandag te steun, tensy dit verskeie gesondheidsbepalings insluit. Vance beskuldig die Demokrate wat daarop aandring om oor gesondheidsorg-befondsing te onderhandel om die regering aan die gang te hou:
# Krieket: Engeland se afrigter, Charlotte Edwards, verwag minstens ‘n plek in die halfeindronde van die eendag-Wêreldbekertoernooi in Indië en Sri Lanka, wat vandag begin met die wedstryd tussen die twee gasvrou-spanne in Guwahati. Engeland se eerste wedstryd is Vrydag teen Suid-Afrika. Engeland het teen Australië verloor in die eindstryd van die vorige toernooi in 2022. Edwards hoop hulle oorwinnings in opwarmingswedstryde teen Australië en Indië sal hulle selfvertroue gee. Die agt spanne speel elk een keer teen mekaar en die beste vier spanne gaan deur na die halfeindronde.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-28-sent teen die dollar, 20-rand-28-sent teen die euro en 23-rand-22-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 113-duisend-611-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-826-dollar-68-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 66-dollar-23-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….