Nuus 11:00
BULLETIN 30 September 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Vryemarkstigting sê die regering se buitelandse beleidsmislukkings bedreig gewone burgers
# Minder beurtkrag word toegeskryf aan die laer vraag en Eskom se energie-beskikbaarheidsfaktor
# En die Amerikaanse vise-president sê die Demokrate moet die skuld kry vir die dreigende regeringsluiting
# Die Vryemarkstigting sê Suid-Afrika se voorspoed hang af van openheid, handel en die oppergesag van die reg. Die regering onderhandel steeds met Amerika oor ‘n handelsooreenkoms. Die stigting sê die hervormings wat Amerika versoek, naamlik respek vir eiendomsregte, die beëindiging van rasverdelende maatreëls en die bekamping van haatspraak, is ten volle in ooreenstemming met die Grondwet. Die stigting voeg by dat die ANC vasklou aan mislukte ideologieë en daarmee die land se grootste uitvoervennoot vervreem en miljoene burgers tot armoede veroordeel ter wille van Koue Oorlog-teater.
# Die Wetenskaplike en Nywerheids-navorsingsraad sê Suid-Afrika het die eerste helfte van die jaar ‘n skerp daling in beurtkrag beleef. Dit was 82-persent minder as dieselfde tydperk verlede jaar. Die verbetering word toegeskryf aan ʼn laer vraag na elektrisiteit, nuwe opwekkingsvermoë en ʼn geringe styging in Eskom se energie-beskikbaarheidsfaktor. Sipho Mdhluli van die WNNR sê Eskom-kragstasies se betroubaarheid het ook effens verbeter:
# Die DA eis aanspreeklikheid ná berigte oor mishandeling en die oorbevolking van psigiatriese pasiënte in die Dr George Mukhari-akademiese hospitaal in Tshwane. Die DA se woordvoerder, Madeleine Hicklin, sê pasiënte word ingeprop in sale wat uitmekaar val ondanks ‘n voltooide opknappingsplan wat in 2022 ingedien is. Hicklin beklemtoon ernstige personeeltekorte, swak infrastruktuur en ellendige toestande. Sy versoek dringende goedkeuring van die plan, personeelaanstellings en aanspreeklikheid deur die leierskap in Gauteng:
Nuus uit die buiteland:
# Die Amerikaanse vise-president, JD Vance, glo die federale regering sal sluit indien die dooiepunt oor fondse voortduur. Min vordering is gemaak tydens gister se laaste wanhopige vergadering tussen president Donald Trump en Demokratiese leiers in die Kongres. Die Demokrate weier om die Republikeinse Party se wetgewing oor voortgesette befondsing ná vandag te steun, tensy dit verskeie gesondheidsbepalings insluit. Vance beskuldig die Demokrate wat daarop aandring om oor gesondheidsorg-befondsing te onderhandel om die regering aan die gang te hou:
# Krieket: Engeland se afrigter, Charlotte Edwards, verwag minstens ‘n plek in die halfeindronde van die eendag-Wêreldbeker in Indië en Sri Lanka, wat vandag begin met die wedstryd tussen die twee gasvrou-spanne in Guwahati. Engeland se eerste wedstryd is Vrydag teen Suid-Afrika. Engeland het teen Australië verloor in die eindstryd van die vorige toernooi in 2022. Edwards hoop hulle oorwinnings in opwarmingswedstryde teen Australië en Indië sal hulle selfvertroue gee. Die agt spanne speel elk een keer teen mekaar en die beste vier spanne gaan deur na die halfeindronde.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-26-sent teen die dollar, 20-rand-26-sent teen die euro en 23-rand-19-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 113-duisend-958-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-854-dollar-50-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 66-dollar-55-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….