Nuus 09:00
BULLETIN 30 September 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA leier sê Suid-Afrika staan voor ‘n duidelike keuse: groei of verval
# Die VF Plus sê die Tembisa-hospitaalverslag bewys dat korrupsie mense van gesondheidsorg beroof
# En Netanyahu ondersteun Trump se 20-punt-vredesplan vir Gaza
# Die DA-leier John Steenhuisen sê dringende hervorming is die enigste manier om werk te skep en geleenthede te ontsluit. Hy het Maandag die ANC-beheerde Emfuleni en die DA-beheerde Midvaal in Gauteng besoek as deel van ‘n landwye toer om die party se plan uiteen te sit om die ekonomie ‘n hupstoot te gee. Die plan berus op ses dringende hervormings, wat werkende plaaslike munisipaliteite en die besnoeiing van verkwistende uitgawes insluit. Steenhuisen sê die komende plaaslike regeringsverkiesings is Suid-Afrika se kans om groei, geleentheid en voorspoed met die DA te kies, of voortgesette werkloosheid en verval onder die ANC.
# Die Wetenskaplike en Nywerheidsnavorsingsraad sê Suid-Afrika het die eerste helfte van die jaar ‘n skerp daling in beurtkrag beleef. Dit was 82-persent minder as dieselfde tydperk in 2024. Die verbetering word toegeskryf aan ʼn laer vraag na elektrisiteit, nuwe opwekkingskapasiteit en ʼn geringe styging in Eskom se energiebeskikbaarheidsfaktor. Sipho Mdhluli van die WNNR sê Eskom-kragstasies se betroubaarheid het ook effens verbeter:
# Die Vryheidsfront Plus sê die Spesiale Ondersoekeenheid se verslag oor korrupsie by die Tembisa-hospitaal in Ekurhuleni bewys hoe diepgewortel korrupsie binne gesondheidsdepartemente is. Die ondersoek het drie gekoördineerde sindikate ontbloot, verantwoordelik vir die plundering van meer as twee-miljard-rand wat vir gesondheidsorg bedoel was. Philip van Staden van die VF Plus sê die party het deurgaans gewaarsku dat wanbestuur, korrupsie en wanadministrasie soos ‘n kanker is wat die openbare gesondheidsorg in die land wegvreet:
# Die Israelse premier Benjamin Netanyahu sê die Amerikaanse president Donald Trump se 20-punt-vredesplan vir Gaza sal hulle oorlogsdoelwitte behaal en vrede in die Midde-Ooste dramaties bevorder. Die twee leiers het gister in die Withuis vergader. Die plan sluit in dat Israelse magte gedeeltelik onttrek word om voor te berei vir ‘n gyselaarsvrylating, die terugkeer van alle gyselaars, dood of lewend, en die ontwapening van Hamas. Netanyahu het gewaarsku dat Israel “die werk sal voltooi” as Hamas die plan verwerp:
# Sokker: Suid-Afrika se Amajita het met 2-1 die onderspit gedelf in hulle Groep E-openingswedstryd van die Fifa Onder-20 teen Frankryk in Chile. Anthony Bermont van Frankryk het die span se eerste doel in die 25ste minuut aangeteken om hulle te laat voorloop. Suid-Afrika het die telling gelyk gemaak danksy ‘n strafskop wat deur Jody Ah Shene in die 33ste minuut verdoel is. Frankryk se ster-voorspeler Lucas Michal se doel in die 80ste minuut was die wendoel. Amajita sal Vrydag terug in aksie wees teen Nieu-Kaledonië en pak Amerika Sondag.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-25-sent teen die dollar, 20-rand-22-sent teen die euro en 23-rand-17-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 114-duisend-382-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-863-dollar-88-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 66-dollar-60-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….