Nuus 08:00
BULLETIN 30 September 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Business Leadership SA sê markdiversifikasie sal wisselvallige handelsbeleid uitskakel
# Trump onthul ‘n 20-punt vredesplan om die oorlog in Gaza te beëindig
# En netbal: Die NWU Arende is die Varsity-kampioene
# Business Leadership South Africa sê die kombinasie van vordering met infrastruktuur en markdiversifikasie skep ‘n sterker mediumtermyn-vooruitsig wat toekomstige wisselvalligheid in politieke en handelsbeleide sal weerstaan. Die regering is tans besig om ʼn strategie te volg waar voorspelbare handelsbande met Amerika herstel word terwyl hy terselfdertyd vennootskappe wêreldwyd uitbrei om tariefonsekerheid te bekamp. BLSA se uitvoerende hoof, Busiswe Mavuso, sê die regering kan plaaslik baie meer doen om mededingendheid te bevorder en handeldryf weer ʼn werkskepper te maak.
# Die speaker van die Nasionale Vergadering, Thoko Didiza, vra groter deelname van die jeug in parlemente en globale besluitnemingsplatforms. Volgens die Interparlementêre Unie is slegs 2,8-persent van die wêreld se parlementariërs jonger as 30 en 73-persent hoërhuise het geen lede jonger as 30 nie. Didiza het die P20 Jong Parlementariërs Forum toegespreek en beklemtoon jong mense is ʼn belangrike mag in die vorming van inklusiewe, volhoubare en vreedsame gemeenskappe:
# Die Onderwysdepartement van Gauteng sê die groeiende aanvraag en begrotingbesnoeiings het veroorsaak dat betalings aan die diensverskaffers van sy Uitgebreide Nasionale Skoolvoedingprogram vertraag is. Die woordvoerder van die departement, Steve Mabona, sê die provinsiale verlenging van die program ondersteun kwesbare leerders in skole wat fooie betaal. Hy beklemtoon dat maaltye voortgaan, terwyl gesprekke met verskaffers voortduur en ‘n nasionale hersiening van die skoolkwartaalstelsel voorsien word:
# President Donald Trump van Amerika het ʼn 20-punt-vredesplan vir Gaza bekendgestel wat Hamas nog moet aanvaar. Hy het gister by die Withuis met die Israelse eerste minister, Benjamin Netanyahu, vergader. Die plan sluit in dat Hamas gyselaars vrylaat terwyl Israel Palestynse gevangenes vrylaat; dat Israel aan die Palestynse gebied onttrek; en dat Hamas sy wapens neerlê. Trump sê hy sal ook ʼn nuwe internasionale oorgangsliggaam, die Vredesraad, aanstel:
# Netbal: Die Noordwes-universiteit se Arende is die Varsity-netbalkampioene nadat hulle die verdedigende kampioene, die Vrystaatse Kovsies, in die eindstryd in Bloemfontein met 57–49 verslaan het. Dis die Arende se derde titel en hulle eerste sedert 2016. Die Kovsies het die pas aangegee en die eerste driekwart van die wedstryd oorheers. Die Arende het in die laaste kwart met vasberadenheid en selfbeheersing gereageer en hul teenstanders se telling met druk en klinies uitgevoerde aanvalle verbygesteek. Afrigter Elsunet du Plessis loof haar spelers se herstelvermoë en geestelike krag.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-25-sent teen die dollar, 20-rand-23-sent teen die euro en 23-rand-17-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 114-duisend-408-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-856-dollar-19-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 66-dollar-47-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….