Nuus 17:00
BULLETIN 29 September 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die hoof van Misdaadintelligensie betwis dit dat die taakspan vir politieke moorde geskep is na die Moerane-kommissie
# Die minister van Gesondheid is geskok oor twee-miljard-rand se plundering by die Tembisa-hospitaal
# En rugby: Die Wallabie-slot Will Skelton keer terug vir die toets teen die All Blacks in Perth
# Die hoof van Misdaadintelligensie, Dumisani Khumalo, betwis bewerings dat die taakspan vir politieke moorde geskep is as gevolg van die Moerane-kommissie se aanbevelings. Khumalo het aan die Madlanga-kommissie in Pretoria gesê die taakspan is administratief gestig deur die destydse nasionale polisiekommissaris, Khehla Sitole, voor die kommissie se ondersoeke. Hy voeg by die tussen-ministeriële komitee het slegs toesig gehou oor befondsing, maar die nasionale kommissaris het bedrywighede en hulpbronne beheer:
# Die minister van Gesondheid, Aaron Motsoaledi, het skok uitgespreek nadat die Spesiale Ondersoekeenheid twee-miljard-rand se plundering by die Tembisa-hospitaal in Gauteng ontbloot het. Die ondersoek is in 2021 van stapel gestuur na die sluipmoord op die verklikker Babita Deokaran. Dit toon dat minstens drie gekoördineerde sindikate agter die korrupsie sit. Motsoaledi het met die ontvangs van die tussentydse verslag gevra hoekom die hospitaal geteiken is. Hy vra dat amptenare wat die netwerke bygestaan het, ondersoek moet word:
# Die polisie- en gevangenisvakbond, POPCRU het die uitkoms van sy gesprekke met die polisie oor die onregverdige verwydering van studente by die Bhisho-opleidingskollege in die Oos-Kaap verwelkom. POPCRU se woordvoerder, Richard Mamabolo, sê 15 lede is uitgesluit op grond van sigbare tatoeëermerke en ander menslike hulpbron-verwante sake. Hy sê die betrokke lede is herstel en teruggeroep vir die Inleidende Polisie-ontwikkelingsleerprogram wat van vandag tot Desember duur:
Nuus uit die buiteland:
# Jaguar Land Rover sê hy gaan in die komende dae die vervaardiging van sy voertuie gedeeltelik hervat nadat ‘n kuberaanval bedrywighede by sy fabrieke in Brittanje tot stilstand gebring het. Die onderneming, wat besit word deur Tata Motors in Indië, het vroeër aangekondig hy is deur kuberkrakers geteiken, wat verkope en vervaardiging ernstig ontwrig het en hy moes noodgedwonge noodbefondsing soek. Die Britse regering het aangekondig ‘n regerings-kredietagentskap sal die waarborg verskaf vir ‘n lening by ‘n handelsbank, wat oor vyf jaar terugbetaal moet word.
# Rugby: Die reuse-Wallabie-slot Will Skelton wil sy fisieke krag gebruik om die All Blacks te ontwrig in hulle moet-wen Rugbykampioenskapswedstryd in Perth nadat hy hulle pynvolle nederlaag in Auckland misgeloop het. Hy het weens klubverpligtinge vir La Rochelle in Frankryk nie in hulle twee tuiswedstryde teen Argentinië gespeel nie. Skelton was ook nie Saterdag op die veld op Edenpark toe die All Blacks die Bledisloe-beker behou het nie. Skelton en die kragtige voorspeler Rob Valetin is terug vir Saterdag se wedstryd op die stampvol Perth-stadium.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-28-sent teen die dollar, 20-rand-29-sent teen die euro en 23-rand-23-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 112-duisend-201-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-821-dollar-66-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 67-dollar-52-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….