Nuus 16:00
BULLETIN 29 September 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die SOE koppel die Tembisa-hospitaalsindikaat van 816-miljoen-rand aan Ramaphosa se neef Maumela
# Jaguar Land Rover hervat produksie in Brittanje na ‘n kuber-aanval
# En gholf: McIlroy striem die skare na Europa se Ryderbeker-oorwinning oor Amerika
# Die Spesiale Ondersoekeenheid het ‘n korrupsie-sindikaat by die Tembisa-hospitaal in Gauteng gekoppel aan die sakeman Hangwani Maumela, wat ‘n neef van president Cyril Ramaphosa is. Die hoof van die eenheid , Andy Mothiba, sê Maumela se netwerk het 816-miljoen-rand deur een-duisend-728 bestellings laat vloei wat verkrygingsreëls omseil het. Medewerkers, insluitende Vusimuzi ‘Cat’ Matlala, het ook gebaat. Mothiba bevestig die bedrieglike verdeling van tenders, met suksesvolle en onsuksesvolle maatskappye wat saamgesweer het deur saam te werk en mekaar te vergoed:
Die DA in Gauteng vra intussen die vervolging van persone in korrupte sindikate wat betrokke is by die Tembisa-hospitaalskandaal. ‘n Voormalige finansiële amptenaar, Babita Deokaran, is vermoor nadat sy onreëlmatighede uitgewys het. Die DA-lid, Jack Bloom, het aan Newzroom Afrika bevestig amptenare wat betrek word is nog nie amptelik aangekla nie. Die Spesiale Ondersoekeenheid se tussentydse verslag het vandag onthul daar is drie sindikate by die hospitaal bedrywig. Bloom vra premier Panyaza Lesufi om beslissend op te tree:
# Die hoof van Misdaadinteligensie, Dumisani Khumalo, sê sekere inligting waaroor hy beskik kan nie openbaar gemaak word nie want dit sal informante in gevaar stel en ondersoekmetodes ontbloot. Hy het aan die Madlanga-kommissie in Pretoria gesê hy sal aansoek doen dat gedeeltes van sy getuienis agter geslote deure aangehoor word om deurlopende misdaad-ondersoeke te beskerm. Khumalo sê afgehandelde ondersoeke kan openbaar gemaak word, maar op die oomblik kry die beskerming van bedryfs-integriteit en die veiligheid van die betrokke persone voorkeur:
Nuus uit die buiteland:
# Jaguar Land Rover sê hy gaan in die komende dae die vervaardiging van sy voertuie gedeeltelik hervat nadat ‘n kuberaanval bedrywighede by sy fabrieke in Brittanje tot stilstand gebring het. Die onderneming, wat besit word deur Tata Motors in Indië, het vroeër aangekondig hy is deur kuberkrakers geteiken, wat verkope en vervaardiging ernstig ontwrig het en hy moes noodgedwonge noodbefondsing soek. Die Britse regering het aangekondig ‘n regerings-kredietagentskap sal die waarborg verskaf vir ‘n lening by ‘n handelsbank, wat oor vyf jaar terugbetaal moet word.
# Gholf: Die vyfmalige major-kampioen Rory McIlroy het die New Yorkse skare gekritiseer vir onaanvaarbare en beledigende gedrag tydens die Ryderbeker-kompetisie in Bethpage Black. Span Europa het Amerika 15-13 geklop om agtereenvolgende titels te verower, en die eerste keer sedert 2012 op Amerikaanse bodem te wen. ‘n Raserige skare het voortdurend persoonlike beledigings teenoor die Europese spelers geslinger terwyl bier op McIlroy se vrou, Erica, uitgegooi is. Hy sê dié gedrag moet nooit in die sport aanvaar word nie:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-29-sent teen die dollar, 20-rand-27-sent teen die euro en 23-rand-24-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 112-duisend-316-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-820-dollar-1-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 67-dollar-81-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….