Eko-minuut 13:30
BULLETIN 29 September 1:30 nm
Goeiemiddag, hier is jou Eko-minuut:
# Bewaringskundiges waarsku oor toenemende konflikte tussen mense en die natuurlewe in Suid-Afrika ná voorvalle met leeus, olifante en hiënas in Limpopo, Mpumalanga en die Wes-Kaap. ‘n Toerisme-raadgewer, Cameron Doyle, sê die verlies aan habitat, landbou-uitbreiding en klimaatsverandering dwing natuurlewe om in nouer kontak met mense te wees, terwyl menslike gedrag die gevare vererger. Afrika se bevolking staan tans op 1,4-miljard en die druk op diere se natuurlike habitat neem toe, wat diere se verdraagsaamheid teenoor mense verminder. Doyle bepleit strenger veiligheidsbewusmaking om verdere tragedies te voorkom.
# Omgewingsgroepe, insluitend Green Connection, gaan buite die Kaapstadse Internasionale Konvensie-sentrum betoog tydens die Afrika-energieweek wat vandag begin. Die geleentheid bring Afrika se energieleiers vir vier dae byeen vir intense onderhandelings oor die toekoms van die vasteland se energiebedryf. Lisa Makaula van Green Connection sê hulle vra beleggings in son-, wind- en veerkragtige voedselstelsels in gemeenskapsbesit. Sy voeg by hulle beywer hulle ook vir ‘n billike en inklusiewe energie-oorgang wat mense bo wins stel:
# Vandag is Internasionale Voedselverlies- en Vermorsingsdag, ‘n dag om bewustheid en gesamentlike optrede te bevorder om voedselverlies en -vermorsing te verminder. Wêreldwyd gaan sowat 13,2-persent van geproduseerde voedsel verlore tussen oes en kleinhandel, terwyl ‘n geraamde 19-persent van die algehele wêreldvoedselproduksie in huishoudings, die voedselverskaffingsdiens en in kleinhandel vermors word. Die Verenigde Nasies se Voedsel- en Landbou-organisasie sê die vermindering van voedselverlies en -vermorsing help om natuurlike hulpbronne en bioverskeidenheid te beskerm, besoedeling en kweekhuisgasvrystellings te verminder en die gebruik van geproduseerde voedsel te verhoog.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….