Nuus 11:00
BULLETIN 29 September 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Ramaphosa sê Suid-Afrikaanse en Amerikaanse sake-ondernemings is verbind tot samewerking
# Mbalula sê die regering van nasionale eenheid sal bestendig bly al dreig die Patriotic Front om te onttrek
# En ‘n botsing tussen ‘n minibus-taxi en twee vragmotors veroorsaak die dood van 12 mense in Limpopo
# President Cyril Ramaphosa sê Amerikaanse en Suid-Afrikaanse sakeondernemings beur voort ondanks die media-hoofopskrifte en debatte oor handelsbeleid en politieke wrywing. Hy het verlede week die Handel- en Beleggingsdialoog tussen Suid-Afrikaanse en Amerikaanse ondernemings toegespreek. Ramaphosa sê in sy weeklikse nuusbrief die maatskappye loof die regering se hervormings en ekonomiese groeivooruitsigte. Hy sê die land sal voortgaan om die beginsel van wederkerigheid in belegging en handelsverhouding met Amerika te bevorder.
# Die ANC se sekretaris-generaal, Fikile Mbalula, sê die Patriotic Alliance se dreigement om die regering van nasionale eenheid te verlaat, sal nie die koalisieregering laat wankel nie. Die PA-leier, Gayton McKenzie, dreig om sy party aan die koalisieregering te onttrek indien Kenny Kunene nie teen môre weer as Johannesburg se burgemeesterskomiteelid vir Vervoer aangestel word nie. Hy beweer burgemeester Dada Morero werk saam met die EFF om die posisie aan hulle te gee. Mbalula het aan eNCA gesê hulle hanteer die PA se kommer:
# Limpopo se Departement Vervoer sê ‘n ondersoek is aan die gang nadat 12 mense gister dood is in ‘n botsing tussen ‘n minibustaxi en twee vragmotors op die R81 by Ga-Sekgopo tussen Mooketsi en Polokwane. Volgens berigte was die insittendes van die minibustaxi op pad van ‘n kerkdiens in die Solomondale-township buite Polokwane na Magoro-dorp, buite Giyani, toe die ongeluk gebeur het. Premier Stanley Mathabatha se woordvoerder, Thilivhali Muavha, sê een van die vragmotorbestuurders het geringe beserings opgedoen:
Nuus uit die buiteland:
# China se voormalige minister van Landbou en Landelike Sake, Tang Renjian, is in ‘n hof in die Jilin-provinsie ter dood veroordeel, wat uitgestel is. Dit is volgens die staatsnuusagentskap Xinhua. Tang is in September verlede jaar as minister verwyder en in November uit die Chinese Kommunistiese Party geskors. In April vanjaar is Tang aangekla nadat hy verdink is van die aanvaarding van omkoopgeld en verhoor.
# Sokker: Arsenal het ‘n agterstand teen Newcastle United omgekeer om 2-1 te wen en is nou slegs twee punte agter die Premierliga-voorloper, Liverpool. Nick Woltemade het Newcastle laat voorloop voor die plaasvervanger Mikel Merino sake gelykop gemaak het, waarna Gabriel Magalhães in die 96ste minuut verdoel het om Arsenal te laat wen. Liverpool het 2-1 teen Crystal Palace verloor in hul eerste nederlaag van die seisoen. Arsenal se afrigter, Mikel Arteta, sê sy span het ʼn punt bewys met die sege:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-26-sent teen die dollar, 20-rand-24-sent teen die euro en 23-rand-20-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 111-duisend-664-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-815-dollar-41-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 68-dollar-60-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….