Nuus 08:00
BULLETIN 29 September 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Lamola kritiseer Solidariteit se jongste besoek aan Amerika
# Cosatu is bekommerd oor die R7,29-miljard in onbetaalde pensioenbydraes deur werkgewers
# En krieket: Die Protea-vroue sluit hul Wêreldbeker-voorbereidings af met ‘n oorwinning oor Pakistan
# Die minister van Internasionale Betrekkinge en Samewerking, Ronald Lamola, sê Solidariteit se jongste besoek aan Amerika is ‘n doelbewuste strategie om die regering se verhouding met Washington te ondermyn. Die Solidariteitsbeweging, ‘n sambreelliggaam vir verskeie Afrikaanse belangegroepe insluitend AfriForum en Solidariteit, voer aan die hoofdoelwit van sy besoek was om handelsbetrekkinge te bespreek. Lamola het aan Daily Maverick gesê die drukgroep ondermyn Suid-Afrika se verhouding met Amerika want hy verdraai die land se swartbemagtigings- en regstellende aksie-beleid.
# Die vakverbond Cosatu het kommer uitgespreek oor die toenemende probleem dat werkgewers nie pensioenfondsbydraes oorbetaal nie. Volgens die jongste verslag van finansiële dienste se gedragsowerheid, is 15-duisend-521 werkgewers tans agterstallig teenoor sewe-duisend-700 in 2024, en heelwat hoër as die vier-duisend wat in 2023 aangemeld is. Cosatu-woordvoerder, Zanele Sabela, sê dit bedreig die finansiële sekerheid van byna 600-duisend werkers in belangrike sektore:
# Afgetrede regter Bess Nkabinde is aangestel as voorsitter van die ondersoek na die geskorste Gautengse direkteur van Openbare Vervolging, Andrew Chauke, se bevoegdheid vir sy amp. Chauke word beskuldig dat hy sy mag as aanklaer misbruik het, onder meer om sonder bewyse ‘n afpersingsklagte teen KwaZulu-Natal se voormalige Valke-hoof, Johan Booysen, aanhangig te maak en ʼn moordsaak teen die oudhoof van Misdaadintelligensie, Richard Mdluli, terug te trek. President Cyril Ramaphosa het aanbeveel Chauke word permanent verwyder indien hy skuldig bevind word aan wangedrag, onbevoegdheid, of nie meer geskik is om die pos te beklee nie.
# Minstens vier mense is gister dood en agt gewond tydens ʼn skietvoorval by die Mormoonse Kerk in die Grand Blanc Township, Michigan. Volgens owerhede het ʼn gewapende man tydens ʼn groot diens met sy voertuig by die kerk se voordeur ingebars, op lidmate losgebrand en die kerk aan die brand gesteek. Grand Blanc Township se polisiehoof, William Renye, sê die man wat uitgeken is as die 40-jarige Thomas Jacob Sanford, is in ʼn skietery met die polisie dood:
# Krieket: Suid-Afrika het in hulle laaste voorbereidende wedstryd vir die komende Vroue-Wêreldbeker in Colombo met vier paaltjies teen Pakistan gewen. Pakistan het eerste gekolf en was na 46 boulbeurte op 229 almal uit met Ayabonga Khaka en Masabata Klass wat elkeen twee paaltjies vir Suid-Afrika platgetrek het. In reaksie daarop het Sune Luus en Anneke Bosch vyftigtalle behaal en ʼn 100-lopie-vennootskap op die vierde paaltjie aangeteken. Die Protea-vroue het die sege beklink met byna tien boulbeurte oor. Suid-Afrika begin hulle Wêreldbeker-veldtog Saterdag teen Engeland.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-30-sent teen die dollar, 20-rand-30-sent teen die euro en 23-rand-25-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 111-duisend-788-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-794-dollar-46-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 68-dollar-77-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….