Nuus 07:00
BULLETIN 29 September 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die hoof van Misdaadintelligensie sal vandag voor die Madlanga-kommissie getuig
# Die hof sal vandag uitspraak lewer oor Malema en Snyman se vuurwapensaak
# En Zelensky veroordeel Rusland se ‘afskuwelike en brutale’ lugbombardement
# Die hoof van Misdaadintelligensie, Dumisani Khumalo, getuig vandag voor die Madlanga-kommissie. As sameroeper van die KwaZulu-Natalse taakspan oor politieke moorde, sal Khumalo se getuienis na verwagting lig werp op bedryfs- en administratiewe kwessies binne die polisie. Hy is tans uit op borgtog nadat hy in Julie gearresteer is in verband met beweerde onwettige aanstellings in senior poste. Die forensiese ondersoeker, Chad Thomas, het aan eNCA gesê Khumalo se getuienis bring ‘n interessante dinamiek omdat hy ʼn beskuldigde in ʼn misdaadsaak is:
# Die UDM is ernstig omgekrap oor die groeiende krisis in Suid-Afrika se onderwysstelsel, met duisende onderwysers wat óf die beroep verlaat óf oorweeg om te bedank. Die waarnemende sekretaris-generaal van die UDM, Zandile Phiri, sê verslae bevestig dat byna die helfte van Suid-Afrika se onderwysers wil bedank. Sy sê dit is as gevolg van ondraaglike stres, oormatige administratiewe pligte, intimidasie deur leerders en ouers, swak betaling en ‘n gebrek aan betekenisvolle ondersteuning:
# Die Oos-Londense landdroshof lewer na verwagting vandag uitspraak in die saak teen die EFF-leier, Julius Malema, en sy lyfwag en medebeskuldigde, Adriaan Snyman. Hulle is onder meer beskuldig dat hulle die Wet op Vuurwapenbeheer oortree het. Malema word beskuldig dat hy in 2018 in Mdantsane ʼn vuurwapen onwettig afgevuur het tydens die party se vyfde verjaardagviering. Die twee pleit onskuldig en voer aan dit was ʼn speelgoedgeweer wat nie lewendige koeëls kan afvuur nie. Malema voer aan die saak is polities en rasgemotiveer.
# Die Spesiale Ondersoekeenheid sal vandag sy tussentydse verslag rakende die ondersoek oor Tembisa-hospitaal in Ekurhuleni vrystel. Die hospitaal word geteister deur bewerings van korrupsie en wanadministrasie. Die hoof van die Ondersoekeenheid, Andy Mothibi, sal die sitting lei, vergesel deur die minister van Gesondheid, Aaron Motsoaledi, en die Gautengse premier Panyaza Lesufi. Die eenheid se woordvoerder, Kaizer Kganyago, sê die publiek sal ‘n vorderingsverslag oor die ondersoek ontvang, wat deel vorm van die eenheid se verbintenis tot deursigtigheid en verantwoordbaarheid.
# Die president van Oekraïne, Volodymyr Zelensky, het Rusland se lugaanval as ʼn veragtelike, barbaarse aanval beskryf. Moskou het die naweek 600 hommeltuie en missiele op teikens in Kiëf afgevuur. Minstens vier mense is dood en sowat 70 is beseer. Dit was volgens die Oekraïnse lugmag die derde grootste aanval sedert die begin van die volskaalse Russiese inval in Februarie 2022. Zelensky sê Moskou wil aanhou veg en doodmaak en verdien die grootste druk van die wêreld.
# Gholf: Die Suid-Afrikaner, Jacques Kruyswijk, het die vierde Sonskyntoer-sege van sy loopbaan behaal by die Origins of Golf by die Devonvale Gholf- en Wynlandgoed in Stellenbosch. Die 32-jarige speler het regulasiespel voltooi en was gelykop met George Coetzee op tien onder baansyfer in ronde 73 en 71, onderskeidelik. Kruyswijk het die tweede putjie van hulle afslaan gewen. Zander Lombard was derde. Kruyswijk, wat nou sy tweede sege in die Origins of Golf-reeks beklink het, sê sy geestelike krag het tot sy oorwinning bygedra:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-32-sent teen die dollar, 20-rand-31-sent teen die euro en 23-rand-26-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 111-duisend-862-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-776-dollar-54-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 68-dollar-58-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….