Nuus 09:00
BULLETIN 27 september 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Lamola sê Die Haagse Groep sal voortgaan om die wêreld te verenig om die mense van Palestina te beskerm
# Die DA eis die vrystelling van die uitgestelde misdaadstatistieke vir die eerste kwartaal
# En vier nuwe gevalle van bek-en-klouseer is in die Vrystaat bevestig
# Die minister van Internasionale Betrekkinge en Samewerking, Ronald Lamola, sê die Haagse Groep sal nie rus totdat dit die wêreld verenig het om die internasionale wette wat die mense van Palestina beskerm, te verdedig nie. Die Haagse Groep, bestaande uit 30 lande, insluitend Suid-Afrika, eis dat Israel voldoen aan internasionale wette rakende sy onwettige besetting van Gaza. Lamola, as medevoorsitter van die Haagse Groep, sê die sperdatum wat aan Israel gegee is deur verlede jaar se VN-resolusie gegrond op ‘n mening van die Internasionale Geregshof, het nou verstryk.
# Die DA het die waarnemende minister van polisie, Firoz Cachalia, versoek om onmiddellik die misdaadstatistieke vir die eerste kwartaal van 2025/26 vry te stel, wat al in Augustus moes uitkom. Lisa Schickerling van die DA sê vertragings en weglatings ondermyn openbare vertroue, aanspreeklikheid en deursigtigheid. Schickerling waarsku dat die weerhouding van data agterdog aanwakker terwyl geweldsmisdaad hoog bly. Sy het beklemtoon dat Suid-Afrikaners die reg het op tydige en volledige misdaadinligting:
# Met die United Democratic Movement wat vandag sy 28ste verjaardag vier, wil die party voortbou op sy rekord van beginselvaste leierskap met die oog op die plaaslike regeringsverkiesing van 2026. Adjunkpresident Nqabayomzi Kwankwa sê die party versterk sy strukture op grondvlak, vergroot sy lidmaatskapbasis en bemagtig die volgende geslag deur die UDM Youth Vanguard en die Verenigde Demokratiese Studentebeweging:
# Die Departement van Landbou en Landelike Ontwikkeling het vier nuwe gevalle van bek-en-klouseer in die Vrystaat bevestig. Dit bring die totale aantal infeksies in die provinsie op 34 te staan, versprei oor ses gebiede. Boere en bedryfsvennote word versoek om alle vermeende gevalle onmiddellik aan te meld. Die departement se woordvoerder, Moliehi Moeng, sê daar is begin met inentings, en alle plase binne tien kilometer van besmette gebiede is onder streng kwarantyn- en bewegingsbeperkings geplaas.
# Die Minister van Elektrisiteit en Energie, Kgosientsho Ramokgopa, het bevestig die regering is besig om ‘n elektrisiteitspakket vir die ferrochroomsektor te finaliseer wat verder strek as die onderhandelde prysooreenkomsraamwerk wat beskikbaar is vir ander elektrisiteitsintensiewe ondernemings. Ramokgopa het tydens ‘n inligtingsessie gesê die bedryf het die negatiewe impak van hoë kragtariewe op die lewensvatbaarheid van die smelters, geopper. Hy het daarom kabinetsgoedkeuring gekry om saam met Eskom in onderhandelinge met die bedryf te tree. Hy sê sulke goedkeuring is nodig, want die ingryping behels “beduidende toegewings”.
# En rugby: Die afrigter van die Leeus, Ivan van Rooyen, sê hulle openingswedstryd in die Verenigde Rugbykampioenskap vanaand in Wallis is ‘n strawwe toets vir sy span. Hulle spel om 8:45 nm teen Cardiff op Cardiff Arms Park. Lubabalo Dobela het die taak om die agterlyn te beheer in die afwesigheid van Chris Smith wat ‘n kopbesering opgedoen het. Die Zimbawiese internasionale-speler Tapiwa Mafura kry sy kans op die regtervleuel terwyl vleuel Angelo Davids sy eerste internasionale verskyning maak vir sy nuwe klub. Die Springbok Quan Horn lei die span vanaf die heelagterposisie.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….