Nuus 17:00
BULLETIN 26 September 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die KZN-vervolgingshoof verwerp bewerings dat politieke moorde in 1994 geëindig het
# Gayton McKenzie dreig met ‘n DA-koalisie indien die ANC die PA opsy skuif
# En die adjunkminister van Elektrisiteit stel ‘n Munisipale Vroueforum in Energie-doeltreffendheid bekend
# Die direkteur van Openbare Vervolging in KwaZulu-Natal, Elaine Harrison, verwerp bewerings dat politieke moorde in 1994 geëindig het. Harrison het aan die Madlanga-kommissie van ondersoek in Pretoria gesê geweld wat verband hou met politiek duur steeds voort en vererger dikwels in die aanloop tot ‘n verkiesing. Harrison het herhalende patrone van moord, poging tot moord, intimidasie en aanrandings wat verband hou met politieke mededinging uitgelig en waarsku KwaZulu-Natal bly kwesbaar vir hierdie misdade:
# Die president van die Patriotic Alliance en die minister van Sport, Kuns en Kultuur, Gayton McKenzie, dreig die ANC dat sy party ‘n koalisie met die DA sal vorm in volgende jaar se plaaslike regeringverkiesing. Dit volg na sy eis dat die adjunkpresident van die PA, Kenny Kunene teen Dinsdag as burgemeesterskomiteelid vir Vervoer in Johannesburg heraangestel moet word. McKenzie het gedreig om as minister te bedank, en waarsku dat die PA landwyd van alle koalisies met die ANC sal onttrek, omdat die ANC sy party opsyskuif:
# Die adjunkminister van Elektrisiteit en Energie, Samantha Graham-Maré, het die eerste Munisipale Vroueforum in Energie-doeltreffendheid van stapel gestuur. Die belangrikste doelwitte van die forum is om vroue toe te rus met leierskaphulpmiddels en tegniese kennis, en om openbare en institusionele bewusmaking oor die rol van vroue in die bevordering van energie-doeltreffendheid te verhoog. Graham-Maré sê die forum verteenwoordig ‘n belangrike stap in die rigting van ‘n meer inklusiewe benadering tot energiebestuur in munisipaliteite:
# ‘n Nuwe ope brief wat deur meer as ‘n duisend akteurs onderteken is, veroordeel “anti-Semitiese” oproepe om sekere Israelse filminstellings oor die oorlog in Gaza te boikot, wat die groeiende spanning in die vermaakliheidswêreld onderstreep. Die brief beskuldig die meer as agt-duisend mense wat die boikot ondersteun, insluitende sterre Emma Stone en Joaquin Phoenix, dat hulle die “anti-Semitiese propaganda aanpor.” Die grootste sterre wat die boikot teenstaan, sluit Liev Schreiber en Sharon Osbourne, asook die uitvoerende hoofde van Universal Music en FOX Entertainment Global, in.
# Tennis: Die agtste gekeurde Daniil Medvedev van Rusland is deur na die laaste 16 van die China Ope nadat hy Cameron Norrie van Engeland met 6-3, 6-4 uitgeskakel het. Die dag het egter ook sy kwota verrassings opgelewer met die Italianer Flavio Cobolli wat die sesde gekeurde Andrey Rublev met 7-6, 6-3 geklop het. Die topgekeurde Jannik Sinner van Italië is gemaklik deur nadat hy die Kroaat Marin Cilic met 6-2, 6-2 geklop het. Ander wenners sluit in Alexandre Müller, Terence Atmane, Alejandro Davidovich Fokina en Fabian Marozsan.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-41-sent teen die dollar, 20-rand-34-sent teen die euro en 23-rand-29-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 109-duisend-182-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-757-dollar-83-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 68-dollar-84-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….