Nuus 16:00
BULLETIN 26 September 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Direkteur Elaine Harrison waarsku ontbinding van taakspan vir politieke moorde kan die 2026-verkiesing ontwrig
# Die DA kondig Mohammed Haniff Hoosen as sy eThekwini-burgemeesterskandidaat aan
# En, AfriForum sal alle pogings om Krugerpark se naam te verander, teenstaan
# Die direkteur van Openbare Vervolging in KwaZulu-Natal, Elaine Harrison, sê die ineenstorting van die taakspan vir politieke moorde hou ‘n ernstige risiko in dat destabilisering tot buite die provinsie kan uitbrei. Harrison het by die Madlanga-kommissie van ondersoek in Pretoria getuig die eenheid is noodsaaklik om polities-gemotiveerde misdade wat tydens verkiesings toeneem, te beperk. Sy waarsku dat sonder die taakspan, politieke geweld na ander provinsies kan uitbrei, wat nasionale bestendigheid voor volgende jaar se plaaslike regeringverkiesing kan benadeel:
# Die DA-leier John Steenhuisen het aangekondig Mohammed Haniff Hoosen is die party se burgemeesterskandidaat vir die eThekwini Munisipaliteit in KwaZulu-Natal. Steenhuisen het aan partylede gesê Durban benodig werkende dienste, funksionerende spoorweë, ‘n sterker ekonomie en werkskepping. Steenhuisen sê die stad se verval kan omgekeer word met leierskap wat waardigheid herstel, water- en rioolstelsels wat reggemaak word en misdaad wat aangepak word. Hy beskryf Hoosen as ‘n ervare leier met die moed om eThekwini te herbou:
# AfriForum het die EFF se mosie om die naam van die Krugerpark te verander gekritiseer en beskryf dit as goedkoop politiek. Die mosie is in die Mpumalanga Wetgewer ter tafel gelê. Die EFF sê hy beoog om alle name van mense wat verband hou met koloniale tyd en die apartheid-era te vervang met die van mense wat ‘n belangrike rol gespeel het in Suid-Afrika se bevryding en ontwikkeling na apartheid. Marais de Vaal van AfriForum sê die hernoem van die park sal onnodige duur handelsmerk-implikasies inhou:
# Die Slowaakse parlement het ‘n grondwetlike wysinging met 90 stemme teen sewe goedgekeur om die regte van selfde-geslagpaartjies te beperk en om die reëls rondom geslagsverandering te verskerp. Die wysiging bepaal ook nasionale wetgewing voorkeur kry bo die wette van die Europese Unie. Sedert sy terugkeer na bewind in 2023, is die nasionalistiese eerste minister, Robert Fico gereeld in konflik met die 27-nasie EU-blok. Hy het al verskeie keer in die EU onder kritiek deurgeloop oor sy beperking van regte.
# Rugby: Die vyfde weergawe van die Verenigde Rugbykampioenskap skop vandag af met die Stormers en die Bulle wat tuiswedstryde in Kaapstad en Pretoria het, terwyl die Haaie in Skotland is en die Leeus hulle veldtog in Wallis begin. Die Stormers speel vanaand sewe-uur teen die verdedigende kampioene, Leinster, terwyl die Haaie om vyf oor nege vanaand teen die Glasgow Warriors te staan kom. In Saterdag se wedstryde speel die Bulle twee-uur die middag teen die Ospreys en die Leeus speel kwart voor nege die aand teen Cardiff.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-42-sent teen die dollar, 20-rand-34-sent teen die euro en 23-rand-28-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 109-duisend-402-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-752-dollar-46-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 68-dollar-57-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….