Nuus 15:00
BULLETIN 26 September 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Gayton McKenzie dreig om te onttrek uit RNE indien Kenny Kunene nie heraangestel word nie
# Direkteur Harrison getuig die taakspan het ‘n hoër skuldigbevindingskoers in politieke moordsake behaal
# En, Nederland gaan ‘Java Man’ aan Indonesië terugbesorg
# Die minister van Sport, Kuns en Kultuur, Gayton McKenzie, het sy voorneme bevestig om uit die regering van nasionale eenheid te onttrek, indien die adjunkpresident van die PA, Kenny Kunene, nie heraangestel word as die burgemeesterskomiteelid vir Vervoer in Johannesburg nie. McKenzie het die burgemeester van Johannesburg, Dada Morero, tot Dinsdag tyd gegee om Kunene weer aan te stel. McKenzie beskuldig die ANC en EFF dat hulle sy party in Johannesburg eenkant toe skuif en sê die PA sal uit alle koalisies onttrek:
# Die KwaZulu-Natalse Direkteur van Openbare Vervolging, Elaine Harrison, het aan die Madlanga-kommissie in Pretoria gesê die taakspan vir politieke moorde het gehelp om hoër skuldigbevindingsyfers in polities gemotiveerde sake te behaal. Harrison sê met aanklaers toegewy aan die eenheid se werk, was sake meer suksesvol afgehandel in vergelyking met voor die stigting van die taakspan. Sy beskryf die taakspan as noodsaaklik in die bekamping van politieke geweld in die provinsie:
# Nederland het belowe om die oorskot van “Java Man“, die eerste “Homo Erectus” wat deur moderne wetenskaplikes opgegrawe is, aan Indonesië terug te besorg. Hierdie opgrawing word beskou as ‘n mylpaalontdekking vir menslike evolusie. Nederland beplan om sowat 28-duisend fossiele van die “Dubois-versameling”, wat die antropoloog en geoloog Eugene Dubois in 1891 geplunder het, toe Indonesië ‘n Nederlandse kolonie was, terug te gee. Die ontdekking het wetenskaplikes in staat gestel om “Homo Erectus” of “regop mens”, te herbou. “Homo Erectus” het tussen 1,9-miljoen-jaar en ongeveer 150-duisend-jaar gelede geleef.
# Tennis: Die Amerikaner, Coco Gauff, het haar plek in die laaste 32 bespreek in ‘n poging om die China Ope vir ‘n tweede agtereenvolgende keer te wen met ‘n gemaklike, 6-4, 6-0 oorwinning oor Kamilla Rakhimova van Rusland. Die wêreldnommer-drie speel in haar volgende wedstryd teen Leylah Fernandez van Kanada, wat Maria Sakkari van Griekeland 6-2, 6-0 oorrompel het. Gauff se grootste teenstander is die wêreldnommer-twee, Iga Swiatek van Pole, wat pas ‘n titel in Seoul ingepalm het. Die wêreldnommer-een, Aryna Sabalenka speel nie in die toernooi nie as gevolg van ‘n besering.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-46-sent teen die dollar, 20-rand-37-sent teen die euro en 23-rand-30-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 108-duisend-813-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-751-dollar-1-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 68-dollar-64-sent per vat.
# En laastens, Kaapstad moedig inwoners aan om die gratis toegang tot sy voorbehoeddienste te gebruik en ingeligte besluite oor hul reproduktiewe gesondheid te neem. Dis vandag Wêreld-voorbehoedingsdag wat bewustheid skep van beskikbare geboortebeperkingsmetodes en jong mense in staat stel om ingeligte besluite oor hul seksuele en reproduktiewe gesondheid te neem. Die burgemeesterskomiteelid vir Gemeenskapsdienste en Gesondheid, Francine Higham, sê die metro het tussen Julie 2023 en Junie vanjaar meer as 750-duisend voorbehoeddienste gelewer:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….