Goeie Nuus
BULLETIN 26 September 2 nm
Goeiemiddag, hier is jou Goeie Nuus:
# Suid-Afrika se voorste graanboere is by die Groei vir Goud-toekennings in Gauteng vereer vir hul uitsonderlike opbrengste, vernuwing en bydrae tot nasionale voedselsekerheid. Corné Louw van Graan SA sê vanjaar se toekennings was geskiedkundig met ‘n skerp toename in nuwe nasionale rekords in die kategorieë vir mielies, koring en sojabone. Hy sê die Noordelike en Suidelike Besproeiingskategorieë het nuwe oesrekords vir koring opgelewer, terwyl ses mielie-streekskategorieë met nuwe rekords spog. Louw sê sojaboonboere het drie nuwe rekords opgestel.
# Linden in Johannesburg het TimeOut se 2025-lys met 39 lekkerste woonbuurte in die wêreld gehaal. TimeOut sê hierdie woonbuurte is plekke wat stede se siel verteenwoordig terwyl dit hul eie unieke, plaaslike karakter behou wat mense lok om daar te woon, werk en speel. Linden is 17de en kry erkenning vir sy outydse egtheid, boheemse boetieks en sjarmante tradisionele en ultra-cool atmosfeer. Jimbōchō in Tokio met sy 130 tweedehandse boekwinkels is eerste, gevolg deur Borgerhout in Antwerpen en Barra Funda in São Paulo in die derde plek.
# Die Sentrum vir Afrika Filantropie en Maatskaplike Belegging by die Universiteit van die Witwatersrand Sakeskool, het ‘n nuwe Pan-Afrika Jeugkompetisie bekend gestel. Dit daag jeugspanne en organisasies tussen 18 en 35 jaar uit om die bevindings van ‘n studie Dignified and Fulfilling Work for Africa’s Youth te hervorm om vindingryke, toeganklike en deelbare oplossings te vind. Wits sê die kompetisie bied ‘n totale prysgeld van 2,2-miljoen-rand aan. Die wenspanne uit die suide, ooste, noorde en weste van Afrika sal elk 557-duisend-rand ontvang.
# ‘n Derdejaarstudent in skakelwerk en kommunikasie aan die Durban Universiteit van Tegnologie, Bongiwe Mlambo, neem sy plek in as een van die uitgekose 2025 Prisms Young Voices. Hierdie program bestaan om die volgende geslag met skakelwerktalent vinniger te laat vorder deur mentorskap, ontwikkeling van vaardighede en indiensopleiding. Die universiteit sê die 22-jarige Mlambo word erken as een van die land se belowende opkomende kommunikeerders en hy maak reg om ‘n betekenisvolle uitwerking op die gebied van skakelwerk deur die hele Afrika te hê .
# Sightseeing Tours Cape Town het sy eerste kommersiële, ten volle elektriese bote by die V&A Waterfront bekendgestel in aanloop tot môre se Wêreldtoerismedag. Die ekovriendelike vaart het plek vir 32 passasiers. Die burgemeesterskomiteelid vir Ekonomiese Groei, James Vos, sê die gebruik van produkte soos elektriese bote verseker dat die plaaslike bedryf ʼn kleiner koolstofvoetspoor het en help die Moederstad om haar uitsonderlike natuurskoon te beskerm:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….