Nuus 11:00
BULLETIN 26 September 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa bied Suid-Afrika aan vir toekomstige vredesgesprekke tussen Zelensky en Putin
# SASSA kondig ‘n verhoging in maatskaplike toelaes van Oktober aan
# En Donald Trump sê Israel sal nie die Wesoewer inval nie
# President Cyril Ramaphosa sê hy het Suid-Afrika aangebied as plek vir toekomstigge vredesamesprekings tussen die president van Oekraïne Volodymyr Zelensky en die Russiese president Vladimir Putin. Ramaphosa het vandeesweek in New York ‘n bilaterale ontmoeting met Zelensky gehad. Die president sê Suid-Afrika is uniek geleë om Putin, Zelensky en die Amerikaanse president Donald Trump vir ‘n drieledige vergadering byeen te bring:
# Die Suid-Afrikaanse Maatskaplike Sekerheidsagentskap het bevestig dat alle maatskaplike toelae van die Oktober 2025 betalingsiklus met tien-rand verhoog sal word. Dit volg na die minister van Finansies, Enoch Godongwana se aankondinging tydens die begroting vroeër vanjaar. Ouderdoms-, gestremdheids-, Versorgings – en Oorlogsveteranetoelaes sal almal geringe verhogings ontvang. ‘n Woordvoerder van SASSA, Andile Tshona, sê die aanpassings is noodsaaklik om die finansiële druk te verminder en om kwesbare groepe te beskerm:
# President Donald Trump van Amerika sê hy het aan eerste minister Benjamin Netanyahu gesê hy sal nie toelaat dat Israel die Wesoewer annekseer nie. Israelse wetgewers het in Julie met 71 teen 13 ten gunste van ‘n niebindende mosie gestem om die Wesoewer te annekseer. Israel vestig reeds sedert 1967 nedersettings in die Wesoewer. Trump vergader Maandag met Netanyahu, en sê hulle kom al nader aan ʼn ooreenkoms en moontlik selfs vrede in Gaza.
# Rugby: Die Springbok-stut Boan Venter, wat aanvanklik ʼn plaasvervanger was, is môre in die opdrafspan van die Rugbykampioenskap-kragmeting teen Argentinië in Durban. Dit volg nadat Ox Nche weens ʼn ligte besering aan die span onttrek het. Jan-Hendrik Wessels sal die plaasvervanger-stut wees met Marco van Staden as haker op die bank. Daar is slegs twee punte verskil tussen Australië en Argentinië wat onderskeidelik eerste en laaste op die punteleer is, met twee rondes wat oorbly.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-41-sent teen die dollar, 20-rand-34-sent teen die euro en 23-rand-28-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 109-duisend-474-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-740-dollar-58-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 68-dollar-58-sent per vat.
# En ten slotte: Suid-Afrikaanse Nasionale Parke het die voorkoms van geïsoleerde gevalle van miltsiekte in die Krugerwildtuin bevestig. Miltsiekte word veroorsaak deur spoorvormende Bacillus anthracis wat in die grond voorkom en kan lewende hawe en wilde diere besmet. Die woordvoerder van SANParke, Rey Thakhuli, sê die gevalle strook met die besmetting se natuurlike verloop in die park. Die uitbreking sal volgens hom afneem met die eerste reën soos dit tipies met miltsiekte-siklus verloop:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….