Nuus 09:00
BULLETIN 26 September 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Tau sê beduidende vordering is gemaak in onderhandelinge met die VSA
# Solidariteit doen ‘n beroep op Trump vir ’n tariefverligting op Suid-Afrikaanse uitvoere
# En swem: Chad le Clos is op ’n wen-noot by die SA Kortbadkampioenskap
# Die minister van Handel, Nywerheid en Mededinging, Parks Tau, sê hulle maak goeie vordering sedert hulle ‘n hersiene handelsraamwerk aan Amerika gestuur het. President Cyril Ramaphosa en sy afvaardiging het hierdie week in New York probeer om nadelige gevolge van Amerika se tariewe van 30-persent af te weer. Tau het aan die SABC gesê die tariewe keer nie handel nie, maar maak mededingendheid ingewikkeld. Hy sê die multilaterale handelstelsel moet hersien word:
Ook die vakbond Solidariteit het ‘n versoek aan die Withuis gerig vir president Donald Trump om ‘n uitvoerende bevel te onderteken wat tariefverligting vir Suid-Afrikaanse nywerhede toestaan, insluitend die motorvoertuigbedryf, landbou, tekstiele en mynbou. Dit volg dae voor die Wet op Groei en Geleenthede in Afrika verstryk. Solidariteit se woordvoerder, Jaco Kleynhans, voer aan sulke verligting sal werkers beskerm en handelsbande versterk. Hy sê AGOA se bestaande raamwerk maak vinnige implementering moontlik sonder groot administratiewe veranderinge:
# Die Vryheidsfront Plus het sterk reageer teen die Stad Tshwane se voorneme om die Appèlhof te nader in ‘n poging om inwoners die ongewilde skoonmaakheffing van 194-rand-37-sent per maand te laat betaal. Die Hooggeregshof in Pretoria het in Julie daarteen uitspraak gegee en dit onwettig, ongegrond en ongeldig verklaar. Dehan Harmse van die VF Plus sê die hof het dit duidelik gemaak die heffing is onwettige dubbele belasting veral vir inwoners van wooneenhede en landgoedere:
# Die Palestynse leier Mahmud Abbas het enige toekomstige rol vir Hamas verwerp en anti-Semitisme veroordeel. Hy het ‘n beroep gedoen vir algehele wêreldwye steun vir ‘n Palestynse staat te midde van Israel se dreigemente oor besetting. Enkele dae nadat Frankryk ‘n spesiale beraad gelei het waar verskeie Westerse moondhede ‘n Palestynse staat erken het, is die 89-jarige leier gedwing om die VN se Algemene Vergadering aanlyn toe te spreek nadat die VSA sy visum om na New York te reis geweier het. Hy het homself ook gedistansieer van Hamas se aanval op 7 Oktober 2023.
# Swem: Die viermalige Olimpiese medaljewenner, Chad le Clos, het sy deelname aan die Suid-Afrikaanse Nasionale Kortbadkampioenskap in Pietermaritzburg op ʼn wen-noot begin. Die 33-jarige swemmer wat na ʼn rugbesering weer in aksie is, het die 50-meter-vlinderslag in 22,79 sekondes gewen en die 100-meter-vryslag in 47,55 sekondes. Die 18-jarige Jessica Thompson het die vroue se 50-meter-vlinderslag en 100-meter-vryslag gewen, en Lara van Niekerk die vroue se 100-meter-vlinderslag. Le Clos sê hy is op ʼn goeie plek:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-42-sent teen die dollar, 20-rand-35-sent teen die euro en 23-rand-26-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 109-duisend-626-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-745-dollar-78-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 68-dollar-69-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….