Nuus 08:00
BULLETIN 26 September 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
# President Ramaphosa versoek Amerikaanse ondernemings om die verlenging van AGOA te ondersteun
# Die voormalige FBI-direkteur James Comey word aangekla
# En netbal: Die Baba-Proteas is vir die eerste keer deur na die Wêreldjeugbeker-halfeindronde
# President Cyril Ramaphosa het sy oproep herhaal dat die Amerikaanse tariewe van 30-persent verlaag of opgehef word. Die president en sy afvaardiging het gister hul werksbesoek van vier dae by die Hoëvlak-segment van die 80ste sitting van die VN se Algemene Vergadering in New York afgesluit. Ramaphosa het aan die media gesê hy het geleentheid gehad om Amerikaanse sakeondernemings te vra om sy oproep te steun dat die Wet op Groei en Geleenthede in Afrika vir nog vyf jaar verleng word:
# Die Nasionale Werkgewersvereniging van Suid-Afrika en Sakeliga het appèl by die Konstitusionele Hof en die Appèlhof ingedien waarin die Hooggeregshof in Pretoria se gelyke indiensnemingsuitspraak betwis word. Die hof het die versoek afgekeur om nuwe regulasies wat indiensnemingsvoorwaardes wat op ras, geslag of gestremdheid berus, te stop. Die ministerie van Indiensneming en Arbeid het tien dae om op die appèl te reageer. Piet le Roux van Sakeliga sê die uitspraak stel ‘n gevaarlike presedent wat werknemers en werksoekers onregverdig kan benadeel.
# Die Ekurhuleni-stadsraad het ‘n mosie verwerp dat die Ekurhuleni-metropolisiedepartement se adjunkhoof, Julius Mkhwanazi, geskors word. Hy word aangekla dat hy die onwettige oordrag van die stad se voertuie, veral dié met blou ligte, aan die vermeende misdaadbaas, Vusimuzi “Cat” Matlala, hanteer het. Mkhwanazi ontken die bewerings. Ekurhuleni se burgemeester, Nkosindiphile Xhakaza, sê die raad het ingestem om die saak na die stadsbestuurder te verwys wat wettig die reg het om alle tugsake te hanteer:
# Die voormalige FBI-direkteur James Comey is deur ʼn federale jurie aangekla. Dit volg kort nadat die Amerikaanse president Donald Trump die prokureur-generaal, Pam Bondi, opdrag gegee het om Comey en ander amptenare wat hy as politieke vyande beskou, vinnig te vervolg. Die Justisiedepartement sê Comey word aangekla dat hy in September 2020 vals verklarings by die Senaat se Regterlike Komitee ingedien en die kongres se verrigtinge belemmer het. Hy kan vyf jaar tronkstraf kry indien hy skuldig bevind word. Comey sê hy is onskuldig:
# Netbal: Die Suid-Afrikaanse onder-21-span het geskiedenis gemaak deur die eerste keer ooit ʼn plek in die Netbal Jeug-wêreldbeker se halfeindronde in Gibraltar te bespreek. Die Baba-Proteas het die Cook-eilande in die kwarteindronde met 79–45 afgeransel. Suid-Afrika se vorige beste by die toernooi was ʼn vyfde plek. Die Baba-Proteas takel vandag in die halfeindronde die viermalige wêreldkampioene van Australië. Die verdedigende kampioene, Nieu-Seeland, kom in die ander halfeindwedstryd teen Engeland te staan.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-43-sent teen die dollar, 20-rand-35-sent teen die euro en 23-rand-27-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 109-duisend-451-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-738-dollar-29-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 68-dollar-62-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….