Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 26 September 2025:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig een van die wêreld se grootste name in digitale finansies, Revolut van Londen, het aangedui dat hy sy toetrede tot die Afrika-mark deur Suid-Afrika gaan doen. Die groep kyk na ‘n mark van sowat 1,3-duisend-miljard-rand wat uit streeksdoelwitte verhaal kan word.
# Mail & Guardian op Vrydae:
Fokus op Helen Zille se oorlogsplan om die beheer in Johannesburg oor te neem.
# En die Netwerk24-webblad:
Berig eerstens oor die aanval op die 84-jarige afgetrede dominee van Pacaltsdorp in George, doktor Louis Petersen. ‘n Groep mans het hom met vuiste bygedam en huisraad en selfs kos gesteel. Die polisie het twee verdagtes in hegtenis geneem.
Dan skryf die webblad die VSA is steeds ongelukkig oor die tema van die G20 wat deur Suid-Afrika aangebied word. Die land sê solidariteit, gelykheid en volhoubaarheid dwaal af van die G20 se kernopdrag naamlik om ekonomiese groei en finansiële bestendigheid te bewerkstellig.
En laastens word berig ‘n Pukke-student is doodgeskok by die geskiedkundige Potchefstroomse treinstasie toe hy en sy vriendin foto’s wou neem.
GAUTENG:
# The Star:
Skryf Gauteng word uitgewys as die sogenaamde ontvoeringshoofstad van Suid-Afrika. Onlangse statistieke toon dat byna 53-persent van alle ontvoeringsgevalle in die land in die provinsie aangemeld word. Verslae dui daarop dat ontvoerders hulself as polisiebeamptes vermom, kompleet met uniforms, kentekens en selfs voertuie met blou ligte, en hul gesag gebruik om hul slagoffers te stop, te mislei en te ontvoer. Van Januarie tot Maart was daar 144 ontvoerings in Gauteng waar lospryse geëis is.
# Sowetan:
Berig die Belasting-ombud, Yanga Mputa het op sowat 16-duisend gevalle afgekom waar e-filing-profiele van die Inkomstediens gekaap is. Die omvang van die bedrogspul kon nog nie vasgestel word nie, want die Inkomstediens kon nie tot ‘n vergelyk kom oor die vrystelling van die ombud se verslag nie.
# En The Citizen:
Skryf daar is ‘n stygende tendens van aanvalle op fluitjieblasers en aanklaers voordat bedrogsake in die hof verhoor kan word.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Lei ook met die aanval op dominee Louis Petersen.
En tweedens word berig die Hessequa-munisipaliteit gaan strafregtelike klagtes indien nadat vullis op Erfenisdag op die voorstoep van die Riversdal munisipale kantoor gestort is.
OOS-KAAP:
# Daily Despatch in Oos-Londen:
Berig die ANC-kongresse in die Oos-Kaapse metro’s is opnuut uitgestel.
En skryf die Tshiamiso Trust verleen ondersteuning aan voormalige mynwerkers om uitbetalings te ontvang.
KWAZULU-NATAL:
# The Witness in Pietermaritzburg:
Skryf oor kinderwelvaart wat weer aan die kortste end trek in KwaZulu-Natal.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig alle besluite en verslae wat deur die Parlement aanvaar is, móét uitgevoer word. Die koerant skryf besluite wat geneem is, lê en stof opgaar terwyl behoeftige gemeenskappe daaronder ly.
En tweedens word berig Namibië speel tans gasheer vir die King’s Baton-aflos as deel van die aftelling na die Statebondspele.