Nuus 06:00
BULLETIN 26 September 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa sê Suid-Afrika se G20-presidentskap het verwagtinge oortref
# Die minister van Landbou sê China kan binnekort sy deure oopmaak vir kersie- en bloubessie-uitvoere
# En rugby: Die Verenigde Rugbykampioenskap skop af vir die vier Suid-Afrikaanse spanne
# President Cyril Ramaphosa sê die wêreld kyk na die G20 as die belangrikste forum vir internasionale ekonomiese samewerking om leiding te gee vir dringende uitdagings. Hy het gister deelgeneem aan die G20-vergadering van ministers van Buitelandse Sake by die Verenigde Nasies in New York. Ramaphosa sê Suid-Afrika se G20-presidentskap het verwagtinge oortref, met selfs aanvanklik twyfelagtige lande wat die uitwerking en betekenis erken van die kwessies wat op die globale agenda geplaas is:
Ramaphosa sê ook die internasionale gemeenskap staar baie uitdagings in die gesig, met volhoubare ontwikkeling wat al meer buite bereik raak. Ramaphosa sê meer as 85-persent van die Volhoubare Ontwikkelingsdoelwitte is tans van koers af, met terugslae in die stryd teen honger, uiterste armoede en toenemende ongelykheid:
# Die minister van Landbou, John Steenhuisen, sê Suid-Afrika staan op die punt om nuwe markte vir kersies en bloubessies te ontsluit, met China wat belowende tekens van goedkeuring toon. Steenhuisen het by die Internasionale Kersie-organisasie se konferensie in Kaapstad gesê samesprekings met Thailand en Suid-Korea vorder, terwyl uitvoere na die Midde-Ooste en Asië steeds groei. Ten spyte daarvan dat swartryp hierdie seisoen tot 70-persent van die kultivars uitgewis het, het uitvoere steeds met sewe-persent gegroei tot meer as 22-duisend-ton.
# Die hoof van die Polisiediens se regsafdeling, Margaretha van Rooyen, het die Parlement se portefeuljekomitee oor Polisie gekritiseer oor hulle versuim om op te tree teen die KwaZulu-Natalse polisiekommissaris, Nhlanhla Mkhwanazi, se klagtes voor sy Julie-nuuskonferensie. Van Rooyen het aan die Madlanga-kommissie in Pretoria gesê tydige ingryping is van kardinale belang om polisieverantwoordbaarheid te verseker en om onregmatige operasionele besluite, soos die ontbinding van die taakspan vir politieke moorde, te voorkom:
# Die Withuis het sy agentskappe opdrag gegee om met voorbereidings te begin vir massa-afdankings indien die Kongres nie volgende week ‘n regeringsafsluiting afweer nie. In ‘n memo wat deur Amerikaanse media gesien is, waarsku die Kantoor van Begroting en Bestuur teen permanente afdankings by veral federale programme, projekte en aktiwiteite wat nie ander befondsingsbronne het nie of nie met die President se prioriteite ooreenkom nie. Die Demokrate beskuldig die Withuis nou van intimidasietaktieke. Trump het sedert die begin van sy termyn reeds duisende federale werkers afgedank deur sy kostebesnoeiingsinisiatief met die Departement van Regeringsdoeltreffendheid.
# Rugby: Die vyfde weergawe van die Verenigde Rugbykampioenskap skop vandag af met die vier Suid-Afrikaanse franchises wat sonder hulle Springbokheelagters moet klaarkom. Die Stormers en die Bulle begin hulle veldtogte met tuiswedstryde in Kaapstad en Pretoria, terwyl die Haaie in Skotland is en die Leeus is in Wallis. Vanaand om 7nm speel die Stormers teen Leinster, die verdedigende kampioen en die Haaie kom om 9.05vm teen die Glasgow Warriors te staan. Saterdag om 2nm speel die Bulle teen die Ospreys en die Leeus speel teen Cardiff om 8.45nm.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-41-sent teen die dollar, 20-rand-31-sent teen die euro en 23-rand-22-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 109-duisend-661-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-748-dollar-73-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 68-dollar-63-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….