Nuus 16:00
BULLETIN 25 September 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# ‘n Polisiekenner waarsku ministers het nie die mag om sake in die polisie te sluit nie
# ‘n FNB-ekonoom sê verbruikersvertroue daal namate die middelklas onder druk verkeer
# En, die ATM vra dat minderjarige swangerskap tot ‘n nasionale pandemie verklaar word
# ‘n Regskenner van die Suid-Afrikaanse Polisiediens, Marga van Rooyen, het aan die Madlanga-kommissie gesê die Grondwet stel dit duidelik dat polisiebeamptes onregmatige bevele moet verwerp, selfs as dit vanaf politieke leiers kom. Van Rooyen het in Pretoria aan die kommissie gesê daar kan nie van politici verwag word om ingewikkelde polisiëring te begryp of te voorsien wat die gevolge van hul opdragte is nie. Sy waarsku ministers kan nie bloot dinge sluit nie, omdat dit ernstige en onopsetlike gevolge vir polisiëring kan inhou:
# FNB se hoofekonoom, Mamello Matikinca-Ngwenya, sê die FNB/BER verbruikersvertroue-indeks het in die derde kwartaal vanjaar van negatief-tien na negatief-13 teruggesak. Sy sê die daling in die algehele indeks tot negatief-13 beteken verbruikersentiment het selfs verder wegbeweeg vanaf die gemiddelde indekslesing van negatief-een sedert 1994. Matikinca-Ngwenya sê dit dui op ‘n verlangsaming in die groei van verbruikersbesteding tydens die derde kwartaal van 2025:
# Die Afrika-Transformasiebeweging het die regering versoek om minderjarige swangerskappe tot ‘n nasionale pandemie te verklaar. Die ATM is bekommerd oor die meer as tweeduisend-700 meisies tussen tien en 14 jaar wat jaarliks geboorte gee, insluitend meer as 100 gevalle in die Oos-Kaap. Die party noem sistemiese mislukkings, ‘n gebrek aan voortplantingsgesondheidsdienste, en seksuele misbruik, as sleuteldryfvere. Zama Ntshona van die party dring aan op omvattende seksopvoeding en ondersteuning vir jong moeders om die siklusse van uitbuiting en armoede te verbreek:
# Indië het ‘n 121-miljard-rand bestelling vir 97 plaaslik vervaardigde vegvliegtuie onderteken terwyl hulle lugmag sy Russiese MiG-21 vliegtuie na dekades van gebruik uit diens stel. Die eerste “Tejas” vleigtuie – wat “briljantheid” in Hindi beteken – is in 2016 deur die lugmag in gebruik geneem. Die jongste bestelling is vir die vierde generasie van die vliegtuig. Indië, een van die wêreld se grootste wapeninvoerders, het die modernisering van sy magte ‘n belangrike prioriteit gemaak, en werk daaraan om sy plaaslike wapenvervaardiging te verhoog.
# Rugby: Argentinië se kanse om vir ‘n verrassing in die Rugbykampioenskap te sorg, soos wat hulle in 2015 in Durban vermag het, het ‘n hupstoot gekry. Losskakel, Tomas Albornoz, het by die groep aangesluit en sal waarskynlik in die beginvyftiental wees in Durban vir die wedstryd teen die Bokke. Albanoz is ‘n groot rede waarom Felipe Contepomi se span soveel aansien geniet. Wat hom ‘n uitblinker maak, is sy vermoë om die agterlyn aan die gang te kry en om gate in teenstanders se verdediging te kloof.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-38-sent teen die dollar, 20-rand-36-sent teen die euro en 23-rand-29-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 111-duisend-519-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-745-dollar-90-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 68-dollar-24-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….