Goeie Nuus
BULLETIN 25 September 2 nm
Goeiemiddag, hier is jou Goeie Nuus:
# Die One Club for Creativity het die name van 13 jong skeppendes bekend gemaak vir die Next Creative Leaders 2025, ‘n gratis wêreldwye kompetisie wat erkenning gee aan opkomende skeppende vroue en nie-binêres in die advertensiebedryf. Vier Suid-Afrikaners is op die kortlys. Die ander is van Kenia, Libanon, Jordanië en die Verenigde Arabiese Emirate. Hulle is beoordeel op tussen vier en ses stukke kreatiewe werk en inligting oor hoe hulle en hul werk die advertensiebedryf bevoordeel en watter bydrae dit in verskeidenheid, mentorskap en voorspraak maak.
# ‘n Doktorale student in Landbou-ekonomie en Kunsmatige Intelligensie aan die Universiteit Stellenbosch, Luther Chipembere, is onlangs aangewys as die 2025 Suid-Afrikaanse FameLab-kampioen. FameLab word beskou as een van die grootste wetenskapkommunikasie en openbare spraakkompetisies in die wêreld en bied ‘n platform vir jong opkomende wetenskaplikes om gehore oor hul werk toe te spreek. Chipembere se doktorale studie pas KI en strategiese vooruitskouings op globale uitdagings toe. Dit sluit voedselonsekerheid vir beleid en praktyk in. Hy sal Suid-Afrika in November by die internasionale FameLab-kompetisie in Switserland verteenwoordig.
# Die Universiteit van Pretoria, deur sy Departement van Institusionele Bevordering, loof sy vennootskap met die programmatuur-firma, PowerFleet. Sedert die begin van die vennootskap in 2018, het PowerFleet 204 studente met beurse ondersteun en tot dusver 11,4-miljard-rand belê. Die universiteit sê die firma se voortgesette verbintenis verlig die finansiële las op baie studente en laat hulle toe om op hul studies te fokus en ‘n basis vir toekomstige loopbane te bou. PowerFleet-woordvoerder, Mariette Myburgh, sê hierdie vennootskap weerspieël hulle toewyding om in mense en hul potensiaal te belê.
# Swem: Graeme King het geskiedenis gemaak toe hy die eerste swemmer geword het om die Kaapse Triple Crown se duikpak-kategorie te voltooi. Die Kaapse Triple Crown gee erkenning aan swemmers wat drie van Kaapstad se mees ikoniese en veeleisende oopwater-swemroetes voltooi. Dit is die Valsbaai-kruising, die Dubbele Robbeneiland-kruising en die Three Capes Swim, waar swemmers om Kaappunt swem. King sê hy het die prestasie behaal met die ondersteuning, leiding en aanmoediging van familie, vriende en die swemgemeenskap.
# En ten slotte: Lamb Champs 2025 het met ʼn rekord-lamkarkas-verkope geskiedenis gemaak by die Hoër Landbouskool Boland in die Paarl. Lamb Champs is ʼn jaarlikse kompetisie waaraan die beste lam-boere in Suid-Afrika deelneem. Louis Botha van Cradock in die Oos-Kaap was die wenner wat met ʼn kontantprys van 40-duisend-rand weggestap het. Botha sal in Oktober aan die nasionale finaal deelneem. Op ʼn veiling is ʼn Dorper-kruising-lam van Pieter Cilliers van Philippolis in die Vrystaat vir 72-duisend-rand aan die Kalahari-groep verkoop wat heelwat meer is as die vorige rekord van 63-duisend-rand.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….