Nuus 14:00
BULLETIN 25 September 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# ‘n Polisie-regskenner sit grondwetlike beperkings op ministeriële gesag uiteen by die Madlanga-kommissie
# Die Kaapse Forum sê die bespotting van die Khoisan moet ‘n einde kry
# En, ‘n verslag waarsku dat invoerbelastingondersoeke vir meer as vyf jaar sloer
# ‘n Regskenner van die Suid-Afrikaanse Polisiediens, Marga van Rooyen, het die grondwetlike beperkings op ministeriële gesag by die Madlanga-kommissie van ondersoek in Pretoria uiteengesit. Sy is die nuwe getuie wat op dag ses van die sittings oor misdadigheid, politieke inmenging en korrupsie in die strafregstelsel getuig. Van Rooyen het gesê hoewel die minister van polisie nasionale polisiëringsbeleid in oorleg met provinsies kan bepaal, berus operasionele besluite by die nasionale polisiekommissaris:
# Die Kaapse Forum sê die land se Khoi- en San-groepe moet begin optree op wyses wat ‘n einde kan maak aan die bespotting wat van hulle gemaak word oor ondermeer onderlinge geskille oor posisies en tradisies. Die forum se voorsitter, Heindrich Wyngaard, sê indien die Khoi- en San-groepe ernstig is oor die bewerkstelling van ‘n inheemse renaissance, moet ‘n paar stappe gedoen word:
# XA Global Trade Advisors se jongste verslag, The Tariff Zombies, dui aan dat ondersoeke na invoerbelasting in Suid-Afrika gemiddeld 27 maande duur, vier keer langer as die amptelike teiken, terwyl die oudste geval na 64 maande nog nie afgehandel is nie. Volgens die verslag is 80-persent van die sake meer as ses maande oud. Die uitvoerende hoof, Donald MacKay, waarsku vertragings by die Internasionale Handelsadministrasiekommissie van Suid-Afrika skep ‘zombie’-aansoeke met verouderde data, wat ondernemings, poste, en verbruikers skaad, en vra ernstige hervorming om die agterstand uit te wis.
# Die Israelse eerste minister Benjamin Netanyahu het op pad na die Verenigde State leiers veroordeel wat ‘n Palestynse staat erken. Hy gaan Withuis-gesprekke voer en ‘n toespraak lewer by die VN se Algemene Vergadering. Sy opmerkings volg drie dae nadat Frankryk ‘n spesiale beraad ten tye van die Algemene Vergadering gelei het, waar talle Westerse regerings ‘n Palestynse staat erken het teen die agtergrond van die byna tweejaar lange Gaza-oorlog. Netanyahu sal die Algemene Vergadering môre toespreek.
# En nou sportnuus: Rugby: Die afrigter van die Wallabies, Joe Schmidt, het ses veranderinge aangebring aan sy beginspan vir Saterdag se Rugbykampioenskap wedstryd teen die All Blacks op Eden Park. Die veranderinge sluit die terugkeer van Harry Potter in, terwyl veterane James O’Connor en Tate McDermott as skakelpaar ingesluit is. Loskopstut, James Slipper, word die eerste speler om die Wallabies in 150-toetswedstryde te verteenwoordig. Schmidt sê hulle is bewus van die uitdagings wat vir hulle op Eden Park voorlê:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-30-sent teen die dollar, 20-rand-33-sent teen die euro en 23-rand-27-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 111-duisend-845-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-757-dollar-1-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 68-dollar-1-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….