Nuus 13:00
BULLETIN 25 September 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# ‘n Polisie-regskenner sê Mchunu het sy magte oorskry met die opdrag vir die sluiting van die politieke moorde-taakspan
# Die DA sê Gauteng het die ontvoeringshoofkwartier van Suid-Afrika geword
# En, die Franse vloot lê beslag op 10 ton kokaïen aan die kus van Wes-Afrika
# ‘n Regskenner in die Suid-Afrikaanse Polisiediens, Marga van Rooyen, sê polisieminister Senzo Mchunu het sy magte oorskry toe hy opdrag gee het vir die ontbinding van die taakspan vir politieke moorde. Van Rooyen het op die sesde dag van die Madlanga-kommissie in Pretoria getuig en aan die kommissie gesê die minister se opdrag was ‘n operasionele aangeleentheid en dus onregmatig, aangesien slegs die nasionale polisiekommissaris polisie-operasies mag bestuur:
# Die DA in Gauteng het sy kommer uitgespreek oor die toenemende getal ontvoerings in die provinsie. Volgens die misdaadstatistiek van die Suid-Afrikaanse Polise, het gevalle van ontvoering in Gauteng met 15,8-persent toegeneem met twee-duisend-en-85 in die vierde kwartaal van die 2023/2024 boekjaar tot twee-duisend-414 in dieselfde tyd in die 2024/2025 boekjaar. Michael Sun van die DA sê hulle is ook bekommerd oor ontvoerders wat hulle na bewering as wetstoepassers vermom:
# Die Franse vloot het beslag gelê op byna 10 ton kokaïen ter waarde van meer as 10-miljard-rand op ‘n vissersboot aan die kus van Wes-Afrika. Die beslaglegging deur twee vlootskepe, het gevolg ná ‘n wenk deur anti-dwelm- en maritieme intelligensie-owerhede en die Britse polisie. Die vlootsending is reeds sedert 1990 in die Golf van Guinee ontplooi om veiligheid te verseker in ‘n gebied waar seerowery redelik algemeen voorkom. Meer as 45 ton dwelms is teen die einde van Augustus onderskep en beslagleggings vir 2025 het reeds ‘n rekordaantal bereik.
# Rugby: Die afrigter van Nieu-Seeland, Scott Robertson het vier veranderinge aan die span gemaak wat ‘n geskiedkundige nederlaag teen die Springbokke gely het, vir hulle wedstryd teen Australië. Die wedstryd, as deel van die Rugbykampioenskap, vind Saterdag op Eden Park plaas. Fabian Holland is in die span in die plek van kaptein Scott Barrett wat beseer is, terwyl Codie Taylor van sy besering herstel het. Die skrumskakel, Cam Roigard, en vleuel Caleb Clarke is ook terug in opdrafspan as die enigste ander veranderings. Robertson sê hy het vertroue in sy spelers:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-30-sent teen die dollar, 20-rand-32-sent teen die euro en 23-rand-27-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 112-duisend-102-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-752-dollar-16-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 68-dollar-16-sent per vat.
# En laastens, Lamb Champs 2025 het met ‘n rekord-lamkarkas-verkope geskiedenis gemaak by die Hoër Landbouskool Boland in die Paarl. Lamb Champs is ʼn jaarlikse kompetisie waaraan die beste lam-boere in Suid-Afrika deelneem. Louis Botha van Cradock in die Oos-Kaap was die wenner wat met ʼn kontantprys van 40-duisend-rand weggestap het. Botha sal in Oktober aan die nasionale finaal deelneem. Op ʼn veiling is ʼn Dorper-kruising-lam van Pieter Cilliers van Philippolis in die Vrystaat vir 72-duisend-rand aan die Kalahari-groep verkoop wat heelwat meer is as die vorige rekord van 63-duisend-rand.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….