Nuus 11:00
BULLETIN 25 September 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa is optimisties oor ‘n voordelige handelsooreenkoms met die VSA
# Die leier van die Patriotic Alliance, Gayton McKenzie, dreig om uit die regering van nasionale eenheid te onttrek
# En Elon Musk se pa staar bewerings van seksuele misbruik oor 30 jaar in die gesig
# President Cyril Ramaphosa sê hy is optimisties dat Suid-Afrika ‘n voordelige handelsooreenkoms met Amerika sal bereik. President Donald Trump het verlede maand ʼn tarief van 30-persent op Suid-Afrikaanse uitvoere ingestel nadat Pretoria versuim het om voor die sperdatum op 1 Augustus ʼn ooreenkoms met Amerika te bereik. Die regering het sedertdien ʼn voorstel vir ʼn handelsooreenkoms ingedien. Ramaphosa het in New York by die Suid-Afrika/Amerika-handels- en beleggingsdialoog gesê onderhandelinge met Amerika vorder goed:
# Die leier van die Patriotic Alliance, Gayton McKenzie, dreig om sy party aan die regering van nasionale eenheid te onttrek. Dit sluit die ANC-beheerde koalisieregering in Johannesburg in. Die rede is Johannesburg se burgemeester, Dada Morero, se versuim om Kenny Kunene onmiddellik weer as burgemeesterskomiteelid vir Vervoer aan te stel. Die PA-onderleier is van alle blaam onthef wat die moordbeskuldigde, Katiso ‘KT’ Molefe, betref. McKenzie het op Facebook gesê Morero het tot Maandag tyd om Kunene weer aan te stel:
# Die Madlanga Kommissie hoor vandag die getuienis van ‘n beampte van die Suid-Afrikaanse Polisiediens se regsafdeling aan oor die wetgewende raamwerk wat die SAPD beheer. Die beampte sal die derde getuie wees na die verskyning van die polisiekommissaris van KwaZulu-Natal, Nhlanhla Mkwanazi, en die nasionale kommissaris van polisie, Fannie Masemola. Die getuienis wat die kommissie so ver aangehoor het, verbind die minister van Polisie Senzo Mchunu, wat op spesiale verlof is, met ‘n lid van ‘n kriminele kartel, Vusumuzi “Cat” Matlala, en beskuldig hom van die onwettige ontbinding van die KZN politieke moorde taakmag.
# Die miljardêr Elon Musk se pa, Errol Musk, word daarvan beskuldig dat hy ten minste vyf van sy kinders en stiefkinders drie dekades lank seksueel misbruik het. Volgens ‘n ondersoek deur die New York Times strek die bewerings terug tot 1993 in Suid-Afrika en Kalifornië, en sluit misbruik in van slagoffers so jonk as vier jaar. Ten spyte van verskeie polisie-ondersoeke is geen aanklagte ingedien nie. Die 79-jarige ontken die bewerings en noem dit vals.
# Rugby: Die Springbokafrigter Rassie Erasmus sê hulle sal nie die gevaarlike Argentyne in Saterdag se Rugbykampioenskap-botsing in Durban onderskat nie. Die Bokke het tien van hul laaste 12 wedstryde sedert 2018 teen die Pumas gewen met hul enigste twee nederlae teen Argentinië die afgelope seisoen en in 2018. Erasmus sê die Los Pumas hou oral gevaar in, veral met sterk voorspelers en uiters talentvolle agterspelers:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-35-sent teen die dollar, 20-rand-38-sent teen die euro en 23-rand-36-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 111-duisend-585-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-743-dollar-11-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 68-dollar-31-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….