Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 16 Januarie 12:30 nm
Goeiemiddag. Ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons begin vandag met sokker: Suid-Afrika speel vandag sy eerste groepwedstryd in die Afrikabeker-toernooi wanneer die span om tien-uur vanaand teen Mali in die Ivoorkus speel. Buurland Namibië speel vroeër teen Tunisië met die afskop om sewe-uur. Die eerste wedstryd van die dag is om vier-uur wanneer Burkina Faso en Mauritanië kragte meet. Bafana Bafana se ander groepwedstryde is Saterdag teen Namibië en volgende Woensdag teen Tunisië.
# Vervolgens, krieket: Die Durban’s Super Giants is boaan die punteleer van die SA20 nadat hulle hul perfekte wegspring van die seisoen met ‘n derde agtereenvolgende oorwinning voortgesit het. Die span het die Joburg Super Kings op Kingsmead in Durban met 37-lopies geklop. Heinrich Klaasen het 64 tot die tuisspan se telling van 145 vir agt bygedra, voordat Reece Topley drie van die besoekers se paaltjies ingeoes en hulle tot 108 vir nege beperk het. Topley – van Engeland – was tevrede met sy vertoning:
Nog krieket: Suid-Afrika se vrouespan sal Australië later die maand besoek vir ‘n geskiedkundige veel-formaat-toer. Die besoek bestaan uit drie T20’s, drie eendagwedstryde en ‘n enkele toets in Perth. Laura Wolvaardt sal die Proteas aanvoer, met Krieket Suid-Afrika wat ‘n toergroep van 15 spelers aangekondig het vir die witbal-deel van die toer. Die T20-reeks begin op die 27ste van die maand in Canberra, en die eendagwedstryde sal gespeel word van die derde tot die tiende van volgende maand. Die toets begin die 15de.
# Tennis is volgende aan die beurt: Die wêreld-nommer-een, Iga Swiatek, is deur na die tweede ronde van die Australiese Ope. Die Pool het die 2020-kampioen, Sofia Kenin van Amerika, met 7-6 en 6-2 geklop. Swiatek het 17 agtereenvolgende wedstryde gewen wat die meeste is sedert sy in 2022 met 37 agtereenvolgende seges in die WTA-toernooi gespog het. Sy kom nou teen die Amerikaner, Danielle Collins, te staan wat die 2016-kampioen, Angelique Kerber, met 6-2, 3-6 en 6-1 verslaan het. In die mansafdeling het Grigor Dimitrov van Bulgarye die Hongaar, Márton Fucsovics, met 4-6, 6-3, 7-6 en 6-2 geklop om die tweede ronde te haal.
# En, ons sluit af met motorsport: Mercedes se Formule Een-spanhoof, Toto Wolff, het ʼn nuwe ooreenkoms onderteken en sy kontrak vir drie jaar tot einde 2026 verleng. Die 52-jarige Wolff, wat ʼn derde van Mercedes F1 besit, is sedert Januarie 2013 by die span. Hy het hulle van 2014 tot 2021 tot ʼn rekord van agt agtereenvolgende Vervaardigerskampioenskappe gelei. Die Silver Arrows het slegs een wedren gewen sedert Formule Een se regulasies twee jaar gelede hersien is en verlede jaar het hulle geen oorwinning behaal nie. Wolff sê hy bly vol hoop dat hulle hierdie seisoen Red Bull se oorheersing kan uitdaag.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….