Nuus 18:00
BULLETIN 23 September 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Kommissaris Masemola sê die ontbinding van die taakspan vir politieke moorde is ‘n poging om die ondersoek na misdaadsindikate te stuit
# Minister Groenewald beklemtoon die noodsaak om slagoffers se regte teen gevangenes se rehabilitasie op te weeg
# En, Springbokafrigter Rassie Erasmus kies bestendigheid met Etzebeth en Willemse in die begin-vyftiental
# Die nasionale polisiekommissaris, Fannie Masemola, beskryf die ontbinding van die taakspan oor politieke moorde as ‘n poging om ondersoeke na misdaadsindikate te stuit. Masemola het in Pretoria aan die Madlanga-kommissie gesê die minister van Polisie, Senzo Mchunu, se besluit was irrasioneel en polities gemotiveerd. Hy het dit verbind met verlede jaar se klopjag op die sakeman Vusimuzi “Cat” Matlala se huis en die blootlegging van korrupsie in ‘n gesondheidskontrak van 360-miljoen-rand tussen sy maatskappy en die polisie:
# Die minister van Korrektiewe Dienste, Pieter Groenewald, het die noodsaaklikheid beklemtoon dat slagoffers se regte teen gevangenes se rehabilitasie en herintegrasie opgeweeg word. Dit volg terwyl afgevaardigdes by die Nasionale Paroolberaad in Pretoria die huidige paroolwetgewing bespreek. Dit sluit in verouderde hand- datastelsels en agterstande as groot struikelblokke. Groenewald het die noodsaaklikheid beklemtoon dat belanghebbendes regoor die regstelsel die Wet op Korrektiewe Dienste en Strafproseswet hersien weens kommer oor die hoë aantal gevangenes op parool wat weer misdaad pleeg:
# Die Oos-Kaapse polisie ondervra vyf verdagtes nadat ‘n 18-jarige graad 12-leerder van Humansdorp High School vanoggend met ‘n mes doodgesteek is. ‘n Polisiewoordvoerder, Majola Nkohli, sê tydens ‘n aggressiewe woordewisseling tussen leerders is een leerder gewond en op die toneel dood verklaar. Nkohli het bevestig ondersoeke is aan die gang met die polisie wat die omstandighede rondom die voorval probeer bepaal.
# Die uitvoerende hoof van ‘n Suid-Koreanse litiumbatteryvervaardiger is tot 15-jaar tronkstraf gevonnis nadat tientalle werkers verlede jaar in ‘n brand in ‘n fabriek oorlede is. Die Suwon Streekshof het die lang tronkstraf aan Aricell hoof Park Soon-kwan opgelê, en verklaar dat die maatskappy se praktyke wins hoër as werkersveiligheid ag. Gedurende die brand in Junie 2024 by die litiumbatteryfabriek is 23 mense, meestal Chinese burgers, dood, in een van Suid-Korea se ergste industriële rampe in jare.
# Rugby: Die Springbok-afrigter, Rassie Erasmus, het op bestendigheid gefokus met die keuse van die span vir Saterdag se Rugbykampioenskapstryd teen Argentinië op Kings Park in Durban. Eben Etzebeth en Damian Willemse is in die beginspan in die plek van die beseerde Lood de Jager en Aphelele Fassi. Damian de Allende keer terug op binnesenter langs Canan Moodie in ‘n opwindende middelveldkombinasie. Die stut Boan Venter sal op die bank wees, met Jan-Hendrik Wessels as die plaasvervanger-haker. Morné van den Berg is op die bank in die plek van Grant Williams, wat las het van ‘n besering.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-25-sent teen die dollar, 20-rand-36-sent teen die euro en 23-rand-32-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 112-duisend-895-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-774-dollar-11-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 67-dollar-19-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….