Goeie Nuus
BULLETIN 23 September
Goeiemiddag, hier is jou Goeie Nuus:
# Die minister van Basiese Onderwys, Siviwe Gwarube, het die Bana Pele-massaregistrasieveldtog vir vroeë kinderontwikkeling verwelkom, wat tienduisend VKO-sentrums suksesvol geregistreer en goedgekeur het. Dit is drie maande voor die oorspronklike sperdatum van 31 Desember. Die minister het die mylpaal beskryf as ‘n oorwinning vir kinders, praktisyns en gemeenskappe oor die hele land. Die departement se woordvoerder, Lukhanyo Vangqa, sê die sukses is ‘n bewys van wat bereik kan word wanneer die regering, die privaatsektor, die burgerlike samelewing en gemeenskappe kragte saamspan:
# Die Universiteit van Suid-Afrika het twee gesogte toekennings van die Suider-Afrikaanse Navorsing-en-innovasiebestuursvereniging ontvang vir organisatoriese uitnemendheid in navorsingsbestuur en vroeë loopbaan-uitnemendheid in navorsingsbestuur. Dis die tweede keer dat Unisa die toekenning vir organisatoriese uitnemendheid in navorsingsbestuur ontvang. Les Labuschagne van die universiteit sê die erkenning getuig van die toewyding, visie en harde werk van die van die hele Departement van Navorsing, Innovering en Kommersialisering en sy span.
# Die Nelson Mandela Universiteit sê hy beleef ‘n merkwaardige groei in nagraadse aansoeke. Volgens September-data het nagraadse aansoeke tot dusver met 47,8-persent toegeneem van 12-duisend-357 in 2025 tot 18-duisend-268 in 2026. Aanvaarding het in dieselfde tydperk met 42,56-persent toegeneem van 592 tot 844. Studentewerwing se adjunkdirekteur, Jo-Ann Daniels, sê die groeiende belangstelling in nagraadse studies weerspieël die universiteit se indrukwekkende navorsinggeskiedenis en die intellektuele vryheid weens die interdissiplinêre oriëntasie van die instelling se beurse.
# Die Kanadese rock-legende Bryan Adams bring in April volgende jaar sy Roll with the Punches-toer na Suid-Afrika. In sy loopbaan van vier dekades het Adams ʼn Grammy gewen en nommer-een-treffers in meer as 40 lande gehad. Hy spog ook met drie Oscars en vyf Golden Globe-benoemings. Sy treffers sluit in Everything I Do I Do It for You, Summer of ’69 en Run to You. Adams gaan in Kaapstad, Pretoria en Durban optree. Kaartjies is van Vrydag af te koop.
#En ten slotte, ‘n nuwe uitstalling met die titel Marie Antoinette Style het by die V&A South Kensington in Londen geopen, wat Brittanje se eerste uitstalling oor die Franse koningin Marie Antoinette is. Die uitstalling bevat 250 voorwerpe, insluitend seldsame persoonlike items wat aan Antoinette behoort het, soos ‘n paar sypantoffels, juwele uit haar privaatversameling en die laaste briefie wat sy voor haar dood geskryf het. Die kurator van Marie Antoinette Style, Sarah Grant, sê Antoinette het ‘n diepgaande impak op Europese smaak en mode gehad en ‘n kenmerkende styl geskep met universele aantrekkingskrag en toepassings.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….