Nuus 14:00
BULLETIN 23 September 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Fannie Masemola sê Senzo Mchunu beweer Ramaphosa het die ontbinding van die taakspan oor politieke moorde goedgekeur
# Die Nasionale Vervolgingsgesag bekom ‘n R4,4-miljoen verbeurdverklaringsbevel wat verbind word met ‘n beleggingskema
# En, die polisie waarsku die publiek oor ‘n bedrogspul waarin sy naam en kenteken gebruik word
# Die nasionale polisiekommissaris, Fannie Masemola, sê die minister van Polisie, Senzo Mchunu het aan hom gesê President Cyril Ramaphosa het die ontbinding van die taakspan oor politieke moorde goedgekeur. Masemola het voor die Madlanga-kommissie in Pretoria gesê hy was verstom oor dié opmerking. Hy sê Mchunu was woedend toe die eenheid sy werksaamhede voortgesit het, en hy het die minister se optrede kommerwekkend gevind:
# Die Hooggeregshof in Pretoria het ‘n verbeurdverklaringsbevel aan die Nasionale Vervolgingsgesag toegstaan van 4,4-miljoen rand wat in 24 bankrekeninge van onwetende individue gehou word by twee bankinstellings. Woordvoerder van die NVG, Lumka Mahanjana, sê ‘n groep Chinese burgers het niksvermoedende individue 200-rand betaal om hulle persoonlike besonderhede, insluitende foto’s, aan hulle te gee. Sy sê die besonderhede is gebruik om bankrekeninge te open wat gebruik is om ingewikkelde netwerke met bedrieglike vermeerderings-beleggingskemas te bedryf:
# Die Polisiediens waarsku die publiek oor ‘n uitvissing-bedrogspul waarin sy naam en kenteken gebruik word. ‘n Woordvoerder, Amanda van Wyk, sê die bedrieërs stuur vals briewe of WhatsApp-boodskappe of maak intimiderende oproepe waarin hulle vals sake en polisiestasies noem om geld of persoonlike inligting te kry. Van Wyk beklemtoon dat die polisie nooit geld sal eis of met die publiek sal kommunikeer deur WhatsApp- of video-oproepe nie. Sy vra hulle om geen persoonlike besonderhede uit te gee of op verdagte boodskappe te reageer nie:
# Rugby: Jan Serfontein se terugkeer na Loftus Versveld en sy opsomming van die nuwe Bulle-span wys waar die fokus van die Pretoria-groep is terwyl hulle voorberei vir die Verenigde Rugbykampioenskap. Hy sê hulle het twee of drie spelers beskikbaar in elke posisie wat enige naweek die trui oor die kop kan trek en die taak suksesvol kan verrig. Groepdiepte is al lankal ‘n kernwoord vir moderne rugbyspanne wat die uitdagings van die VRK, die Kampioenebeker en die Uitdaagbeker moet behartig.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-31-sent teen die dollar, 20-rand-41-sent teen die euro en 23-rand-37-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 112-duisend-954-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-784-dollar-85-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 66-dollar-52-sent per vat.
# En laastens, die ABC-televisienetwerk het aangekondig dat die program Jimmy Kimmel Live vanaand weer uitgesaai sal word. Die laataandprogram is verlede week vir ‘n onbepaalde tyd van die lug gehaal nadat Jimmy Kimmel opmerkings gemaak het oor die moord op die konserwatiewe mediapersoonlikheid Charlie Kirk. Kimmel het in sy monoloog verlede Maandag gesê die MAGA-groep probeer politieke voordeel trek uit die moord op Kirk. Hy het ook die Amerikaanse president, Donald Trump, gekoggel oor sy reaksie op die skietery. Sinclair, een van Amerika se grootste TV-stasie-eienaars, sê hy sal nie die program uitsaai nie.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….