Nuus 13:00
BULLETIN 23 September 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Fannie Masemola skryf die oplossing van die Sindiso Magaqa-saak toe aan werk deur die taakspan oor politieke moorde
# Die regering beywer hom vir die hervorming van die VN-veiligheidsraad
# En, TLU SA verwelkom die samewerking in ‘n ondersoek na onwettige jag in Ermelo
# Die nasionale kommissaris van polisie, Fannie Masemola, het die werk van die taakspan oor politieke moorde in KwaZulu-Natal voor die Madlanga-kommissie in Pretoria verdedig. Masemola sê die eenheid het in weerwil van kritiek baasbreine in verskeie hoëprofielsake vasgetrek. Hy sê die span het deurslaggewende bewysstukke gevind in die ondersoek na die moord op die gewese ANC-Jeugligaleier, Sindiso Magaqa, in KwaZulu-Natal:
# Die regering sê vir Suid-Afrika is die 80ste sitting van die Verenigde Nasies se Algemene Vergadering in New York, ‘n belangrike platform om hom vir hervorming van die VN-veiligheidsraad te beywer. Die sitting se tema is, Beter saam: 80 jaar en meer vir vrede, ontwikkeling en menseregte. Die regering se woordvoerder, Boipelo Modise, sê ʼn hervormde veiligheidsraad sal ʼn billike Afrika-verteenwoordiging bied en die Afrika-unie se Agenda 2063 bevorder:
# Die landbou-organisasie TLU SA het die suksesvolle arrestasie bevestig van 24 verdagtes wat betrokke is by onwettige jag met honde in Ermelo, Mpumalanga. Bennie van Zyl van TLU sê die ondersoek is deur plaaslike boere, die polisie en die Dierebeskermingsvereniging uitgevoer en daar is beslag gelê op 50 honde en verskeie voertuie. Van Zyl beklemtoon die belangrikheid van wettige nakoming en samewerking tussen jagters, boere en owerhede:
# Deense polisie sê wie ook al verantwoordelik was vir die groot hommeltuie bo Kopenhagen se lughawe, het geweet wat hulle doen. Lughawens in Kopenhagen en Oslo het vandag heropen, ure nadat ongeïdentifiseerde hommeltuie in hul lugruim veroorsaak het dat tientalle vlugte herlei of gekanselleer moes word. Polisie is ontplooi om die hommeltuig-aktiwiteit te ondersoek. Die toestelle is ure lank waargeneem waar hulle kom en gaan voordat hulle op hul eie weggevlieg het.
# Rugby: Die Haaie skop hulle Verenigde Rugbykampioenskapveltog Vrydagaand af met ‘n wegwedstryd teen die Glasgow Warriors. Hulle hoofafrigter John Plumtree het 29 spelers gekies om na Europa te reis vir die drie-wedstryd toer wat ook wedstryde teen die Dragons en Leinster insluit. Verskeie Springbokke is nie vir die Haaie beskikbaar nie, en hulle het ook ‘n lang beseringslys, maar die groep sluit wel ervare spelers in soos Lukhanyo Am, Edwill van der Merwe, Jaden Hendrikse, Marvin Orie en kaptein Vincent Tshituka.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-30-sent teen die dollar, 20-rand-42-sent teen die euro en 23-rand-36-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 113-duisend-052-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-785-dollar-87-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 66-dollar-22-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….