Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 23 September 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Rugby: Die Springbokke se hulpafrigter Tony Brown, sê dit is noodsaaklik dat die span vir tagtig minute voluit teen Argentinië moet speel om die gewenste resultate te kry. Suid-Afrika kom in hulle voorlaaste Rugbykampioenskap wedstryd teen Los Pumas Saterdag in Durban te staan. Al vier die deelnemende spanne, die Wallabies, die Bokke, die All Blacks en Pumas staan steeds ‘n kans in die finale twee rondes. Brown sê Argentinië is ‘n gevaarlike span:
# Rugby: Die Nieu-Seelander Jorja Miller, Megan Jones van Engeland en die Kanadees Sophie de Goede is benoem vir vrouespeler van die jaar. Hulle kry erkenning vir hul wêreldgehalte-prestasies die afgelope seisoen. Intussen is Miller, Josifini Neihamu van Fidji en Braxton Sorensen-McGee van Nieu-Seeland benoem as die 15’s se deurbraakspeler van die jaar. Die wenners, insluitend dié van afrigter, skeidsregter en drie van die jaar, word Saterdag op Twickenham tydens die trofee-oorhandiging ná die Vroue-wêreldbekereindstryd aangekondig.
# Rugby: Die Haaie skop hulle Verenigde Rugbykampioenskapveltog Vrydagaand af met ‘n wegwedstryd teen die Glasgow Warriors. Hulle hoofafrigter John Plumtree het 29 spelers gekies om na Europa te reis vir die drie-wedstryd toer wat ook wedstryde teen die Dragons en Leinster insluit. Verskeie Springbokke is nie vir die Haaie beskikbaar nie, en hulle het ook ‘n lang beseringslys, maar die groep sluit wel ervare spelers in soos Lukhanyo Am, Edwill van der Merwe, Jaden Hendrikse, Marvin Orie en kaptein Vincent Tshituka.
# Gholf: Span Europa se kaptein, Luke Donald, sê hy is trots op sy span wat die geleentheid verwerp het om betaling te ontvang vir hul deelname aan die Ryderbeker-kompetisie. Die Amerikaanse PGA het verlede jaar aangekondig dat Span Amerika betaal gaan word om in die kompetisie te speel, wat ‘n nuwe wending in tradisie was. Die Ryderbeker-kompetisie begin Vrydag op Bethpage in New York. Donald sê hulle het geen motivering of monetêre vergoeding nodig om in die spesiale kompetisie te speel nie:
# Sokker: Paris St-Germain en Frankryk se voorspeler, Ousmane Dembélé, het sy eerste Ballon d’Or gewen. Die 28-jarige speler het die vorige PSG-seisoen 35 doele aangeteken toe sy span die Kampioeneliga, die liga-titel en die Franse Beker gewen het. PSG-bestuurder Luis Enrique is die afrigter van die jaar. Barcelona en Spanje se middelveldspeler, Aitana Bonmati, is die eerste vrou wat die Ballon d’Or drie agtereenvolgende jare wen. Engeland se afrigter, Sarina Wiegman, is aangewys as beste vroue-afrigter. Arsenal en PSG spog onderskeidelik met toekennings vir die beste vroue- en mansklub van die jaar.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….