Nuus 11:00
BULLETIN 23 September 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa ondersteun volhoubare en verantwoordelike natuurbewaring
# Die VF Plus waarsku oor ‘n gevaarlike presedent in Ekurhuleni se grondonteieningsaak
# En rugby: Die Bok-hulpafrigter sê Argentinië is ‘n gevaarlike span om te trotseer
# President Cyril Ramaphosa sê die natuur ken geen politieke grense nie en Suid-Afrika is vir die huidige en toekomstige geslagte verbind tot natuurbewaring. Hy het gister die Africa Keystone-vennootskap vir beskermde gebiede se nagereg- en sjampanje-onthaal vir staatshoofde bygewoon wat by die 80ste Algemene Vergadering van die VN in New York gehou is. Ramaphosa sê die 162 bestaande beskermde gebiede in Afrika het die potensiaal om saam ‘n reusebydrae tot bewaring van biodiversiteit te lewer:
# Die MK-party sê president Cyril Ramaphosa moet dringend die besonderhede verduidelik van die onthullings wat die KwaZulu-Natalse polisiekommissaris, Nhlanhla Mkhwanazi, verlede week voor die Madlanga-kommissie gemaak het. Mkhwanazi beweer dat Ramaphosa se kantoor druk op die nasionale polisiekommissaris, Fannie Masemola, uitgeoefen het om die spesiale taakmag te ontplooi tot voordeel van die mynmaatskappy Richards Bay Minerals. Die MK-party sê Ramaphosa moet die regsgrondslag, koste en rasionaal vir hierdie ontplooiing openbaar maak, en aan die Parlement verantwoording doen oor hoe sulke gedrag ooreenstem met sy grondwetlike plig om onpartydig te regeer.
# Die Vryheidsfront Plus sê die Ekurhuleni Munisipaliteit moet gekeer word in sy poging om grond sonder vergoeding te onteien. Die metro het geweier om te betaal vir ‘n 34-hektaar eiendom wat hulle in 2019 vir behuisingsontwikkeling in Driefontein gekonfiskeer het. Die eiendom is destyds op nie minder nie as 30-miljoen-rand gewaardeer, met latere onafhanklike waardasies tot so hoog as 64-miljoen-rand. Die VF Plus-leier, Corné Mulder, sê dit is duidelik dat geen privaat grond in Suid-Afrika veilig is nie:
# Die Gesondheidsministerie van Gaza sê twee hospitale in Gaza-stad is buite aksie weens die verskerping van Israel se grondaanval en skade wat aangerig is deur die aanhoudende bomaanvalle, met tenks wat dieper in die gebied inbeweeg. Die ministerie sê in ‘n verklaring die Al-Rantissi-kinderhospitaal is ‘n paar dae gelede erg beskadig deur ‘n Israelse aanval. Israelse aanvalle naby die Oog-hospitaal, het ook tot die opskorting van dienste gelei.
# Rugby: Die Springbokke se hulpafrigter Tony Brown, sê dit is noodsaaklik dat die span vir tagtig minute voluit teen Argentinië moet speel om die gewenste resultate te kry. Suid-Afrika kom in hulle voorlaaste Rugbykampioenskap wedstryd teen Los Pumas Saterdag in Durban te staan. Al vier die deelnemende spanne, die Wallabies, die Bokke, die All Blacks en Pumas staan steeds ‘n kans in die finale twee rondes. Brown sê Argentinië is ‘n gevaarlike span:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-36-sent teen die dollar, 20-rand-48-sent teen die euro en 23-rand-47-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 112-duisend-999-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-752-dollar-79-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 65-dollar-59-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….