Nuus 06:00
BULLETIN 23 September 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Godongwana sal die mediumtermynbegroting in November ter tafel lê
# Die nasionale polisiekommissaris sê die ontbinding van die taakspan vir politieke moorde was onwettig
# En atletiek: Botswana verklaar ‘n openbare vakansiedag na hul historiese goue medalje
# Die Nasionale Tesourie het bevestig dat die minister van Finansies, Enoch Godongwana, die mediumtermyn-begroting op 12 November ter tafel sal lê. Dié begroting, wat tradisioneel in Oktober ter tafel gelê word, bied ‘n geleentheid vir die minister om hersienings aan te bring aan die nasionale begroting en addisionele geld toe te ken waar nodig. Die Tesourie sê weens die laat lewering van die Februarie-begroting, wat in Mei ter tafel gelê is, en die behoefte aan beraadslaging met partye in die regering van nasionale eenheid voor dit ter tafel gelê word, het minister Godongwana die November-datum versoek.
# Die nasionale polisiekommissaris, Fannie Masemola, het aan die Madlanga-kommissie gesê die ontbinding van die taakspan vir politieke moorde was onwettig en skielik. Masemola sê die minister van Polisie, Senzo Mchunu het nie vooraf kommer oor die eenheid uitgespreek nie en het nie sleutelbelanghebbendes, insluitende die Nasionale Vervolgingsgesag, geraadpleeg nie. Hy sê hy was met verlof toe Mchunu die opdrag uitgereik het en hy het deur ‘n WhatsApp-boodskap, sonder enige bespreking of waarskuwing, daarvan te hore gekom:
Masemola sê ook hy en die adjunk- nasionale polisiekommissaris vir Misdaadopsporing, Shadrack Sibiya, het vasgesit oor die plan om die taakspan vir politieke moorde onmiddellik te ontbind. Masemola het getuig Sibiya het ‘n voorstel vir die skielike ontbinding voorgelê, maar hy het dit verwerp. Hy sê hy het eerder ‘n geleidelike uitfasering bepleit, maar Sibiya het later ‘n brief in sy eie naam uitgereik om die ontbinding af te dwing:
# Die Departement van Onderwys in Gauteng, sê skooltoelatings word gebaseer op huisadres en sibbe, en nie op burgerskap nie. In reaksie op Operasie Dudula se veldtog in Soweto, moedig die departement skole aan veilig te bly en te sorg dat onderrig onverpoos voortgaan. Steve Mabona van die departement sê die provinsie vermeerder plasings vir leerders met spesiale behoeftes, herstel mobiele klaskamers, en verbeter fasiliteite:
# Die NAVO-lidland Pole sal nie aarsel om enige vliegtuie of hommeltuie wat sy lugruim skend en ‘n bedreiging inhou, neer te skiet nie, maar sal meer versigtig wees in situasies waar daar nie volle sekerheid is nie. Die eerste minister van Pole, Donald Tusk, het ‘n nuuskonferensie meegedeel hulle sal vlieënde voorwerpe afskiet as hulle die land se gebied binnedring en oor Pole vlieg. Rusland het ‘n bewering ontken dat Russiese vegvliegtuie Pole se lugruim geskend het en gesê die bewerings is vals. Estland sê drie Russiese vegvliegtuie het Vrydag sy lugruim geskend.
# Atletiek: Botswana het ‘n openbare vakansiedag verklaar om die land se oorwinning in die mans 4×400-meter-aflos by die Wêreldatletiekkampioenskappe in Tokio te vier. President Duma Boko het die goue medalje ‘n “geskiedkundige Afrika”-oorwinning genoem en prys die span vir hul prestasie. Hy het aangekondig Maandag, 29 September, sal ‘n vakansiedag wees, ‘n dag voor die land se onafhanklikheidsdag. Botswana se span met Lee Bhekempilo Eppie, Letsile Tebogo, Bayapo Ndori en Busang Collen Kebinatshipi het die VSA in ‘n reëndeurweekte wedloop geklop. Suid-Afrika het die derde plek behaal.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-33-sent teen die dollar, 20-rand-46-sent teen die euro en 23-rand-42-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 112-duisend-712-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-746-dollar-96-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 65-dollar-96-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….