Nuus 16:00
BULLETIN 22 September 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die nasionale polisiekommissaris beweer sekere raadslede meld vals skietvoorvalle aan om beskerming te kry
# Beslag is gelê op ‘n onwettige wapenarsenaal in ‘n woonstel in Kaapstad
# En die DA kritiseer Lesufi se regering oor verlies van 199-miljoen-rand in regsgedinge oor slaggate
# Die nasionale polisiekommissaris Fannie Masemola sê sommige raadslede het vals skietvoorvalle uitgevoer om persoonlike beskerming te verkry. Masemola het aan die Madlanga-kommissie in Pretoria gesê die taakspan vir politieke moorde is in 2019 ingestel en is op provinsiale vlak gelei om politieke moorde in KwaZulu-Natal aan te pak, maar het later sy operasies na die Oos-Kaap uitgebrei. Hy voeg by die taakspan is permanent ingestel weens lang hofvertragings in hul ondersoeke:
# Die polisie het op ‘n onwettige wapenarsenaal, insluitend ses AK-47-gewere, agt nege-millimeter-pistole sowel as ammunisie, in ‘n woonstel in Bellville in Kaapstad beslag gelê. Volgens berigte kom die arsenaal vanaf KwaZulu-Natal. Die agt verdagtes kon nie geldige vuurwapenlisensies toon nie. Hulle staan tereg op aanklagte van die onwettige besit van vuurwapens en sal in die Landdroshof in Bellville verskyn. Die beslaglegging is deel van voortgesette Wes-Kaapse polisie-operasies wat onwettige vuurwapens en bendeverwante geweld teiken.
# Die DA in Gauteng sê premier Panyaza Lesufi se regering laat inwoners in die steek, aangesien die Departement van Paaie en Logistiek 988 regsgedinge in die gesig staar, met regskoste en skikkings van bykans 199-miljoen-rand oor die afgelope vyf jaar. Die DA se woordvoerder, Evert du Plessis, sê slaggate, sinkgate en foutiewe verkeersligte bedreig lewens en beskadig voertuie. Hy eis deursigtigheid oor die provinsie se Litigasieverminderingsplan en strenger padonderhoud:
# Die Noord-Koreaanse leier Kim Jong Un sê hy het “goeie herinneringe” van die Amerikaanse president Donald Trump en is oop vir toekomstige gesprekke met die VSA, mits hy sy kernarsenaal kan behou. Kim het Trump drie keer ontmoet vir hoëprofiel-gesprekke tydens Trump se eerste termyn. Gesprekke het egter in 2019 in Hanoi ineengestort oor die toegewings wat Pyongyang bereid was om oor sy kernwapens te maak al dan nie. Amerika se eis dat Kim sy verbode wapens prysgee, is lank reeds ‘n strydpunt tussen die twee lande.
# Rugby: SA Rugby se president, Mark Alexander het hulde gebring aan Nolusindiso Booi met haar uittrede na ‘n merkwaardige loopbaan van 15 jaar. Booi verlaat rugby as die vrouespeler wat die Springbokke die meeste kere verteenwoordig het met 55 toetse en met 26 wedstryde as kaptein. Haar prestasies sluit vier rugbywêreldbekertoernooie en verskeie Afrika-vrouebekertitels in. Booi het haar dankbaarheid teenoor SA Rugby uitgepreek vir sy ondersteuning en vertroue in haar leierskap:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-31-sent teen die dollar, 20-rand-39-sent teen die euro en 23-rand-35-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 112-duisend-684-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-718-dollar-34-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 65-dollar-63-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….