Nuus 15:00
BULLETIN 22 September 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# BUSA doen regstappe oor gebrekkige teikens vir gelyke indiensneming
# Die GOOD-party sê bedanking van Kannemeyer kan nie die einde wees van aanspreeklikheid nie
# En, Minister Tau bevestig deurlopende beraadslagings oor swartbemagtiging met Amerika
# Business Unity South Africa het vandag die howe genader om die onlangs gepubliseerde sektorale teikens vir gelyke indiensneming te betwis. BUSA sê alhoewel dit werkplektransformasie ondersteun, is die teikens wesenlik en prosedureel gebrekkig. Die uitvoerende hoof, Khulekani Mathe voer aan daar was geen betekenisvolle raadpleging nie, met onrealistiese standaard benaderings en teenstrydige voldoeningsraamwerke. Hy eis dat die teikens daarop gemik moet wees om die geloofwaardigheid van transformasie te beskerm en om wettige, deursigtige en praktiese billikheidsbeleide te bevorder:
# Die GOOD-party sê die bedanking van die beleërde menslike hulpbronbestuurder van die Stellenbosch-munisipaliteit, Alexander Kannemeyer, om hom van aanspreeklikheid te vrywaar, is onaanvaarbaar. Hy het verlede week as waarnemende direkteur van korporatiewe dienste bedank, wat beteken die raad kan hom nié ingevolge die Wet op Munisipale Stelsels skors nie. Dit volg op ‘n video waarin hy voorstel dat die lewe vir wit werknemers moeilik gemaak word sodat hulle bedank. Robin Hendrikse van GOOD sê aanspreeklikheid kan nie opsioneel wees nie:
# Die minister van Handel, Nywerheid en Mededinging, Parks Tau, het bevestig dat die beleid van swartbemagtiging tydens tariefonderhandelings met Amerikaanse amptenare bespreek is. Die VSA het voorheen kritiek teen Suid Afrika se SEB-raamwerk uitgespreek wat beoog om apartheid-era ongelykhede reg te stel, en beskryf dit as ‘n hindernis vir handel. Tau het die noodsaaklikheid beklemtoon dat die bekommernisse aangespreek moet word om ‘n wedersydse voordelige handelsoorkoms te bevorder. Die minister het bevestig dat die voortgesette besprekings beoog om die 30-persent handelstariewe wat deur Amerika op Suid-Afrikaanse invoere ingestel is, op te los.
# China se belangrikste internetreguleerder het ‘n omvattende tweemaande-lange ingryping op sosiale media aangekondig en onderneem om inhoud te beveg wat “kwaadwillige aanhitsing tot konflik” en “negatiewe lewensuitkyke soos wêreldmoegheid” bevat. Beijing vereis dat sosiale mediamaatskappye inhoud op hul platforms moet modereer, met plasings wat streng beheer word om enigiets te vermy wat as te ondermynend, vulgêr, pornografies of andersins skadelik beskou word. Die kennisgewing deur die Chinese kuberruimte-administrasie volg na aankondigings die maand van boetes teen drie gewilde digitale platforms, wat volgens die reguleerder inhoudbestuurspligte verwaarloos het.
# Krieket: Suid-Afrika begin die verdediging van hulle Wêreld-toetskampioenskaptitel met ‘n reeks van twee toetse teen Pakistan vanaf 12 tot 24 Oktober in Lahore en Rawalpindi. Kaptein Temba Bavuma speel nie weens ‘n kuitspierbesering en Aiden Markram is as kaptein aangewys. Draaibouler Simon Harmer is vir die eerste keer herroep sedert Maart 2023. David Miller is die kaptein van die T20-groep, terwyl Matthew Breetzke die eendagspan sal lei. Donovan Ferreira is in beheer van die T20-span teen Namibië op 11 Oktober in Windhoek.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-27-sent teen die dollar, 20-rand-34-sent teen die euro en 23-rand-32-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 112-duisend-930-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-726-dollar-15-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 65-dollar-73-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….