Eko-minuut 13:30
BULLETIN 22 September 1:30 nm
Goeiemiddag, hier is jou Eko-minuut:
# Jong entrepreneurs het G20-leiers dringend gevra om klimaat-optrede te versnel. Meer as 600 afgevaardigdes van alle G20-lande het onlangs die G20-beraad vir jong entrepreneurs in Gauteng bygewoon. Die beraad het tasbare uitkomste beklemtoon, insluitend die bekendstelling van programme wat optrede kan versnel, aanbevelings oor beleid, en beleggingsgeleenthede en ‘n ekonomiese handves van die jeug. Die Global Young Entrepreneurs Alliance sê entrepreneurskap kan ‘n dryfveer wees vir groen ekonomiese oorgang, volhoubare landbou en klimaatslim innovasie. Die beraad het onderneem om regerings te vra om ‘n volhoubare omgewing, asook handel en digitale groei te prioritiseer.
# Die V&A Waterfront sê sy vennootskap met The Green Cab bevorder omgewingsverandering terwyl dit ware maatskaplike en ekonomiese waarde skep. As onderneming met vroue as eienaars is The Green Cab ‘n baken van vernuwing in die groeiende sektor vir elektriese voertuie en e-mobiliteit in Suid-Afrika. Sedert die diens in Desember 2024 bekendgestel is, het dit reeds meer as 21-duisend kilometer afgelê, meer as 30-duisend mense vervoer en sowat een-duisend-176 kilogram koolstofdioksied-uitlaatgasse gespaar. Die V&A Waterfront sê die vennootskap bewys volhoubare sakeondernemings is noodsaaklik vir die planeet se toekoms.
# En ten slotte: Die premier van KwaZulu-Natal, Thamsanqa Ntuli, sê hy is bekommerd dat die meeste munisipaliteite in die provinsie hoegenaamd nie gereed is vir klimaatsverandering nie. ‘n Onlangse studie deur Wits toon in besonderhede hoe stygende temperature wêreldwyd weerpatrone aan Suid-Afrika se ooskus beïnvloed, veral in KwaZulu-Natal en die Oos-Kaap, wat die kans vir, en omvang van uiterste weersverskynsels verhoog. Ntuli beklemtoon dat gemeenskappe opgevoed, ingelig en bemagtig moet word oor die onmiddellike- én langtermyn-gevolge van klimaatsverandering:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….