Nuus 12:00
BULLETIN 22 September 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Ramaphosa bevorder ‘n agenda vir ‘n meer billike wêreldorde by die VN se Algemene Vergadering
# Eskom wil binne twee jaar met ladingvermindering wegdoen
# En, Korrektiewe Dienste Departement se Korrektiewe Week fokus op rehabilitasie
# President Cyril Ramaphosa lei hierdie week ‘n Suid-Afrikaanse afvaardiging na die 80ste sitting van die Verenigde Nasies se Algemene Vergadering in New York. Die sitting sal gehou word onder die tema, “Beter Saam: 80 Jaar en Meer vir Vrede, Ontwikkeling en Menseregte“. Die land se afvaardiging sal verskeie vergaderings bywoon, insluitend dié oor handel en beleggings, sowel as besprekings oor die tweestaat-oplossing vir Israel-Palestina. Die Presidensie sê Ramaphosa sal die kritieke platform gebruik om ‘n progressiewe agenda vir ‘n meer regverdige, vreedsame en billike wêreldorde te bevorder.
# Eskom sê hy is vasberade om ladingvermindering teen Maart met 15- tot 20-persent te verminder en dit binne twee jaar uit te skakel. Die kragvoorsiener stel hierdie week ladingvermindering in dele van Gauteng in. Gebiede wat soggens minder krag sal ontvang, sluit in Naledi, Dobsonville, Mabopane, Winterveldt en Jabulani. Saans sal ladingvermindering geld in onder meer Kagiso, Meadowlands, Cosmo City, Riverside en Tsakane. Eskom se woordvoerder, Daphne Mokwena, sê verbruikers kan onderbrekings van ongeveer vyf tot ses uur op ‘n keer verwag:
# Die Departement van Korrektiewe Dienste vier Korrektiewe Diensteweek om begrip vir Suid-Afrika se korrektiewe dienstestelsel te bevorder. Die opvoedingsveldtog sal fokus op rehabilitasie en nie net straf nie, sowel as oortrederherintegrasie, gemeenskapskorreksies en vaardigheidsontwikkeling. Die departement doen ‘n beroep op die publiek om veiliger gemeenskappe en herstellende geregtigheid te ondersteun ter wille van die waardigheid en rehabilitasie van oortreders.
# Duitsland het bevestig dat hy nie ‘n Palestynse staat sal erken tot die Israeli’s en Palestyne oor ʼn tweestaat-oplossing onderhandel het nie. Dit kom in aanloop tot die Verenigde Nasies se algemene vergadering waar Frankryk na verwagting die jongste land sal word wat ʼn Palestynse staat erken, nadat Australië, Brittanje, Kanada en Portugal dit gister gedoen het. Die erkenning wil druk op Israel plaas oor sy veldtog in Gaza, waarin tienduisende volgens berigte dood en ʼn groot deel van die gebied verwoes is. Dit het teenkanting van Israel se bondgenote ontlok.
# Atletiek: Wayde van Niekerk, wat deel was van Suid-Afrika se 4×400 meter-aflosspan, is vol lof vir sy spanmaats by die Wêreld-atletiekkampioenskap waar hulle die bronsmedalje verower het. Span SA se Lyth Pillay, Zakithi Nene, Udemy Okon en Van Niekerk was derde na Botswana en Amerika. Van Niekerk sê ná ʼn lang medalje-droogte, was dit ʼn voorreg om deel van die span te wees, en hy is dankbaar vir sy spanmaats se motivering.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-32-sent teen die dollar, 20-rand-38-sent teen die euro en 23-rand-38-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 112-duisend-621-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-718-dollar-83-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 66-dollar-39-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….