Nuus 11:00
BULLETIN 22 September 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Ramaphosa sê Suid-Afrika sal die stryd lei om multilateralisme in die Algemene Vergadering te vestig
# ’n Professor in die Regte is nie optimisties dat die Madlanga-kommissie se aanbevelings volledig geïmplementeer sal word nie
# En, Charlie Kirk se vrou sê sy vergewe haar man se vermeende sluipmoordenaar
# President Cyril Ramaphosa sê die 80ste sitting van die Verenigde Nasies se Algemene Vergadering in New York vind vandeesweek plaas te midde van ‘n uiters broos wêreldbestel wat op reëls gegrond is. Die sitting vind plaas onder die tema Beter saam: 80 jaar en langer vir vrede, ontwikkeling en menseregte. Ramaphosa het kort ná sy aankoms in New York met die SABC gepraat en gesê hulle sal robuuste multilateralisme, die vreedsame oplossing van konflik en die onwrikbare beskerming van menseregte bevorder:
# ‘n Professor in Regte, Pierre de Vos, sê die Madlanga-kommissie sal uiteindelik net suksesvol wees indien moontlike weerstand van instellings wat by bewerings betrek word, oorkom kan word. Die KwaZulu-Natalse polisiekommissaris, Nhlanhla Mkhwanazi, was verlede week die kommissie se eerste getuie. Hy het politieke leiers en senior polisiebeamptes daarvan beskuldig dat hulle misdaadsindikate beskerm en ondersoeke saboteer. De Vos sê hy bly versigtig optimisties dat die kommissie uitstekende werk sal doen om die waarheid bloot te lê. Hy sê hy voorsien nie dat al hul bevindings en aanbevelings geïmplementeer sal word nie.
# Die Nasionale Direkteur van Openbare Vervolging, advokaat Shamila Batohi, sê sy is bekommerd oor die veiligheid van aanklaers. Sy sê minstens 34-miljoen-rand word jaarliks aan die beskerming van staatsadvokate bestee. Dit sluit 24-uur regstreekse beskerming in waar iemand tydens hoëprofielsake by hul huise geplaas word. Vyf aanklaers is die afgelope vyf jaar in die Wes-Kaap, KwaZulu-Natal en die Oos-Kaap doodgeskiet. Batohi sê, ondanks die gevare is baie aanklaers vasberade om aan te hou werk.
# Die konserwatiewe aktivis, Charlie Kirk se vrou, Erika, sê sy vergewe die man wat van haar man se moord aangekla word. Die 22-jarige Tyler Robinson is verlede week van sewe oortredings aangekla wat moord en regsverydeling insluit. Kirk is tydens ‘n geleentheid by die Utah Valley University doodgeskiet. Erika Kirk het gister by haar man se gedenkdiens in Arizona beloof om sy taak by Turning Point USA voort te sit waar sy nou as uitvoerende hoof en raadsvoorsitter dien:
# Tennis: Die Amerikaner Taylor Fritz het Span Wêreld na hul derde Laverbeker-titel in vier jaar in San Francisco gelei. Span Wêreld het Span Europa onder aanvoering van Spanje se Carlos Alcaraz met 15-9 geklop, en daarmee aan Andre Agassi sy eerste oorwinning as kaptein besorg. Fritz was die ster en het groot oorwinnings oor Alcaraz en Alexander Zverev van Duitsland behaal. Volgende jaar se aanbieding van die kompetisie sal by Londen se O2 Arena plaasvind. Agassi was vol lof vir sy span:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-35 sent teen die dollar, 20-rand-96-sent teen die euro en 23-rand-39 sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 112-duisend-725 dollar. Die prys van goud is drie-duisend-710 dollar-34-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 66-dollar-47-per-vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….