Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 22 September 2025:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig Suid-Afrika se eerste groot toets van onteiening sonder vergoeding sal beslis word kragtens verouderde wetgewing weens president Cyril Ramaphosa se versuim om die Onteieningswet van 2024 in werking te stel. Sakeliga sê die Driefontein-saak kan ‘n presedent skep vir behuisingsprojekte en kommersiële ontwikkeling.
# En die Netwerk24-webblad:
Lei met ‘n minuut-tot-minuut verslag oor die gedenkdiens wat daar vir die aktivis, Charlie Kirk in die VSA gehou is.
Dan skryf die webblad doktor Aneen Church van Kovsies sê Afrikaans se grootste bedreiging is nie ander tale nie, dis Afrikaanse ouers wat hul kinders in Engelse skole sit.
En laastens word berig oor Laurika Rauch wat een van haar laaste optredes by die Afrikaans 100-geleentheid in Kaapstad gelewer het.
GAUTENG:
# The Star:
Skryf volgens ontleders is die DA se keuse om Helen Zille as burgemeesterskandidaat in Johannesburg te benoem en haar as die groot redder uit te beeld, misleidend en onrealisties. Dit beweeg ook weg van die party se plasing van swart leiers in sleutelposisies.
# Sowetan:
Berig oor die lot van die mense in Tzaneen, Limpopo nadat die plaaslike owerheid 65 huise gesloop het wat onwettig op staatsgrond gebou is. Sommige woon nou in hul motors langs die bourommel.
# En The Citizen:
Vra of Helen Zille in staat is om Johannesburg reg te ruk. Die koerant skryf van die vernaamste struikelblokke is ‘n dalende belastingbasis en ‘n geskiedenis van sukkelende koalisies in die raad.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Berig oor die gedenkdiens vir Jan Boland Coetzee wat op Coetzenburg gehou is. Hy is uit verskeie sektore van die samelewing gegroet en geprys vir sy bydrae.
En tweedens skryf die koerant ook oor Helen Zille se planne in Johannesburg. Die DA glo sy is die regte “muti” om die stad reg te ruk.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig ‘n reuse-rioolstorting in Nelson Mandelabaai laat kommer ontstaan oor die veiligheid van strande tydens die somerseisoen.
En tweedens skryf die koerant stappe word gedoen om Gqeberha se oudste brug, die Smartie-brug teen swaar voertuie te beskerm.
KWAZULU-NATAL:
# The Witness in Pietermaritzburg:
Skryf Ashor Sarupen het sy oog op die federale voorsitterskap van die DA. Dit volg na Helen Zille se planne in Johannesburg bekend gemaak is. Sarupen is tans eerste adjunkvoorsitter van die federale raad.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig Namibië spog met sy eerste waterstofaangedrewe bus deur vennootskappe met die Europese Unie en privaat beleggings.
En tweedens skryf die koeant plaaswinsgewendheid het verbeter danksy sterker pryse vir vee, insluitend beeste, lammers en speenkalwers. Pryse het van 10- tot 27-persent gestyg.