Nuus 09:00
BULLETIN 16 Januarie 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Business Leadership South Africa waarsku teen populistiese politiekery in aanloop tot die verkiesing
# ‘n Onderwysaktivis sê die regering moet ‘n manier vind om alle vakante onderwysposte te vul
# En, The Daily Show with Trevor Noah wen ‘n Emmy
# Business Leadership South Africa glo daar is ‘n groot gevaar dat populistiese beleide in aanloop tot die verkiesing deur die Parlement gedruk sal word, om as propaganda in vanjaar se nasionale verkiesing te gebruik. Die sake-organisasie se uitvoerende hoof, Busisiwe Mavuso, sê politieke veldtogte kan die aandag aflei van die proses om die land te regeer, veral terwyl die land vordering nodig het te midde van groot ekonomiese probleme. Sy sê dis noodsaaklik om momentum te behou in hervormingsvennootskappe, en prioriteite na te kom terwyl die verkiesingseisoen ontvou.
# Die GOOD Party in die Oos-Kaap het twee sake van bedrog en korrupsie teen Khanya Nqgisha, ʼn EFF-raadslid in die Nelson Mandelabaai-munisipaliteit, aanhangig gemaak. Dit kom te midde van bewerings van omkopery en misbruik van die Uitgebreide Openbarewerkeprogram se fondse. Lawrence Troon van die GOOD Party sê in die eerste geval het Nqgisha blykbaar probeer om een-miljoen-rand omkoopgeld te kry by die multimiljard-rand-maatskappy, Hive Energy, in ruil vir ondersteuning om ʼn Coega-projek deur die raad te laat goedkeur:
# Die onderwysaktivis Hendrick Makaneta sê die regering moet ʼn manier vind om alle vakante onderwysposte in Suid-Afrika te vul wat deur afgetrede onderwysers gelaat word. Dit geld veral vir vlak een-onderwysposte. Daar is tans meer onderwysers in die land as wat die onderwysstelsel kan hanteer. Makaneta sê dis verkeerd dat gekwalifiseerde onderwysers werkloos bly terwyl daar vakante poste is wat befonds word:
# Motorsport: Mercedes se Formule Een-spanhoof, Toto Wolff, het ʼn nuwe ooreenkoms onderteken en sy kontrak vir drie jaar tot einde 2026 verleng. Die 52-jarige Wolff wat ʼn derde van Mercedes F1 besit, is sedert Januarie 2013 by die span. Hy het hulle van 2014 tot 2021 tot ʼn rekord van agt agtereenvolgende Vervaardigerskampioenskappe gelei. Die Silver Arrows het slegs een wedren gewen sedert Formule Een se regulasies twee jaar gelede hersien is en verlede jaar het hulle geen oorwinning behaal nie. Wolff sê hy bly vol hoop dat hulle hierdie seisoen Red Bull se oorheersing kan uitdaag.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-77-sent teen die dollar, 20-rand-50-sent teen die euro en 23-rand-82-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 42-duisend-792-dollar-25-sent. Die prys van goud is twee-duisend-49-dollar-10-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 78-dollar-20-sent per vat.
# En, ter afsluiting, The Daily Show With Trevor Noah het by die 75ste Emmy Awards ʼn toekenning vir Uitstaande Geselsreeks gewen. Dis die eerste toekenning wat die program opraap sedert Jon Stewart se laaste jaar as gasheer. Die Suid-Afrikaanse komediant is die eerste swart persoon wat in hierdie kategorie met ʼn Emmy spog. The Daily Show het The Late Show with Stephen Colbert, Jimmy Kimmel Live!, The Problem with Jon Stewart en Late Night with Seth Meyers, uitgestof om die toekenning te wen. Noah, wat die Comedy Central-program meer as ‘n jaar gelede verlaat het, het die toekenning aanvaar:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….