Nuus 11:00
BULLETIN 21 September 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# ActionSA sê hy is nie verbaas dat Zille die DA se Johannesburgse burgemeesterskandidaat is nie
# Kgosientso Ramokgopa sê die NECSA-raad sal binne drie weke vervang word
# En Keir Starmer is gereed om Britse erkenning te verleen aan ‘n Palestynse staat
# Die leier van ActionSA Herman Mashaba sê Helen Zille se benoeming as die DA se Johannesburgse burgemeesterskandidaat was te wagte. In ‘n onderhoud met Newzroom Afrika het Mashaba Zille en enige Suid-Afrikaner wat aan munisipale leierskap wil deelneem, verwelkom en beklemtoon dat dit die DA se keuse is. Mashaba sê Johannesburg sal haar prestasie beoordeel en vergelyk met haar ampstermyn in Kaapstad, waar sy noemenswaardige sukses behaal het. Hy het die uitdagings wat in Johannesburg voorlê, uitgelig:
# Die minister van Elektrisiteit en Energie, Kgosientsho Ramokgopa, sê ‘n nuwe raad sal binne drie weke vir die Suid-Afrikaanse Kernenergiekorporasie aangestel word. Die huidige raad is onbevoeg na verskeie bedankings wat verband hou met geskille oor salarisverhogings en bestuurskwessies. Ramokgopa het aan die Parlement se portefeuljekomitee oor Elektrisiteit en Energie gesê potensiële kandidate is reeds op die kortlys, met goedkeuring van die kabinet wat binnekort verwag word.
# ‘n Boer van Chrissiesmeer in Mpumalanga, het ‘n gewelddadige aanval oorleef nadat hy vroeg Vrydag in die nek gesteek is terwyl hy sy eiendom geïnspekteer het. Die polisie sê die slagoffer het daarin geslaag om een aanvaller uit selfverdediging te skiet, terwyl ‘n ander een gevlug het. Die beseerde verdagte, ‘n 46-jarige Malawiese burger, is in hegtenis geneem op aanklagte van poging tot moord, veediefstal en oortredings van die Immigrasiewet. Hy bly onder polisiebewaking in die hospitaal. Owerhede is tans op soek na die tweede verdagte, wat hangende aanklagte in die gesig staar.
# Die Oftalmologiese Vereniging van Suid-Afrika waarsku dat mense met tipe 2-diabetes ‘n dubbele risiko loop om katarakte te ontwikkel, die hoofoorsaak van voorkombare blindheid. Oogsorgbewustheidsmaand het gister begin en duur tot 17 Oktober, met die Right to Sight Trust wat meer as eenduisend gratis operasies landwyd gaan uitvoer. Dokter Mpopi Lenake sê katarakte kan behandel word, maar vertragings, beperkte spesialiste en lae bewustheid veroorsaak steeds onnodige sigverlies onder Suid-Afrikaners:
# Die Britse eerste minister, sir Keir Starmer, sal na verwagting later vandag in ‘n verklaring Brittanje se erkenning van ‘n Palestynse staat aankondig. Starmer het in Julie gesê dat die land sy standpunt in September sal verander tensy Israel aan voorwaardes voldoen, insluitend die instemming tot ‘n skietstilstand in Gaza en die verbintenis tot ‘n langtermyn volhoubare vredesooreenkoms wat ‘n tweestaatoplossing bied. Die stap het hewige kritiek van die Israelse regering, gyselaarsgesinne en sommige konserwatiewes ontlok. Die Israelse premier, Benjamin Netanyahu, het vroeër gesê so ‘n stap “beloon terreur”. Portugal, Frankryk, Kanada en Australië sal ook ‘n Palestynse staat erken, terwyl Spanje, Ierland en Noorweë dit verlede jaar reeds gedoen het.
# En Olimpiese Spele: Die president van die Internasionale Olimpiese Komitee, Kirstie Coventry, sê die Olimpiese Spele verenig die wêreld en bevorder vreedsame mededinging. Dit volg te midde van oproepe om sanksies op te lê teen Israel en Rusland voor die Olimpiese Winterspele in Italië. Russiese atlete word steeds verbied om onder hul nasionale vlag deel te neem, terwyl Israelse atlete nie beperk word nie. Sy het die IOK se verbintenis tot sy waardes beklemtoon:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….