Nuus 09:00
BULLETIN 21 September 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die NVG vra vir kalmte te midde van die plofbare bewerings by die Madlanga-kommissie
# Die DA verdedig Kohler Barnard te midde van Mkhwanazi se bewerings van intelligensie-lekkasies
# En ‘n kuberaanval veroorsaak vertragings by Heathrow en ander Europese lughawens
# Die hoof van die Nasionale Vervolgingsgesag, Shamila Batohi, het Suid-Afrikaners versoek om uitspraak voor te behou oor getuienis voor die Madlanga-kommissie. In die eerste drie dae van die ondersoek het die KwaZulu-Natalse polisiekommissaris, Nhlanhla Mkhwanazi, getuig dat sakemanne die regstelsel geïnfiltreer het met die steun van top-polisiebeamptes. Batohi sê dit bly bewerings en sy het ‘n beroep op geduld gedoen terwyl die Kommissie môre sy werk voortsit:
Die DA het intussen parlementslid, Dianne Kohler Barnard, verdedig na ‘n beslukdiging deur Mkhwanazi, dat sy geklassifiseerde inligting uitgelek het. Kohler Barnard, wat in die Parlement se gesamentlike komitee oor intelligensie dien, het in Junie besonderhede van ‘n ondersoek na onwettige eiendomsverkrygings onthul. Die DA het die bewerings as lasterlik afgemaak. Woordvoerder Karabo Khakhau het aan Newzroom Afrika gesê Mkhwanazi moet bewys lewer, en daarop aangedring dat Kohler Barnard proaktief opgetree het:
# Heathrow is een van verskeie Europese lughawens wat deur ‘n kuberaanval getref is wat die elektroniese inboek- en bagasiestelsel beïnvloed. Die lughawe berig dat verskeie vlugte gister vertraag is weens ‘n “tegniese probleem” met sagteware wat deur verskeie lugdienste gebruik word. Brussel-lughawe sê ‘n kuberaanval Vrydagaand het beteken dat passasiers per hand ingeboek en aan boord toegelaat is, en Berlyn se Brandenburg-lughawe het langer wagtye weens die probleem gerapporteer. RTX, wat die sagtewareverskaffer Collins Aerospace besit, sê hy sal so vinnig as moontlik werk om die kuberverwante ontwrigting op te los. Die Europese Kommissie wat die lugruim regoor Europa bestuur, hou die situasie dop.
# Atletiek: Jo-Ane du Plessis het die beste vertoning deur die Suid-Afrikaanse span tot dusver by die Wêreldatletiekkampioenskap gelewer en gister vierde geëindig in die vroue-spiesgooi in Tokio, Japan. Op die voorlaaste dag van die byeenkoms het Du Plessis se spies op 63,06-meter geland met haar tweede ronde-poging.
Die Suid-Afrikaanse mans 4×100-meter-aflosspan was baie verlig nadat hulle ‘n appèl in die eerste ronde-uitdunne toegestaan is. Hoewel hulle nie die wedloop voltooi het nie, het amptenare besluit Suid-Afrika het ‘n werklike saak na ‘n voorval teen Italië tydens die eerste oordrag van die stokkie. Die nasionale viermanskap, Shaun Maswanganyi, Sinesipho Dambile, Bradley Nkoana en Akani Simbine het vroeg vanoggend hul wedloop in ‘n solo-tydtoets herhaal, maar kon nie die kwalifiserende tyd klop nie en sal nie later vandag in die eindronde wees nie.
In die mans se 4×400 meter-aflos-uitdunne het die Suid-Afrikaanse span bestaande uit Gardeo Isaacs, Udeme Okon, Leendert Koekemoer en Lythe Pillay hul uitdun in 2-minute-58,81-sekondes gewen. Hulle het outomaties tot vanmiddag se eindstryd deurgedring.
# En ten slotte: Die Kyalami Grand Prix-renbaan bied hierdie naweek die DStv Delicious internasionale kos- en musiekfees aan. Dit is ‘n viering van kultuur, geur en ritme. Dit is die elfde jaar van die fees wat wêreldklas-vermaak, kulinêre avonture, dinamiese mode en kunsinstallasies bied. Besoekers kan optredes deur kunstenaars soos Don Toliver en Kwesta verwag, tesame met opkomende sterre en energieke dansmusiek op verskeie verhoë. Dit word beskryf as ‘n sensoriese fees vir kos- en modeliefhebbers asook musiekaanhangers wat nie gemis kan word nie.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….